NUMERI 18:2-10

NUMERI 18:2-10 Bybel vir almal (ABA)

Jy moet jou ander familie, die Leviete wat die nageslag is van jou voorvader Levi, saam met jou laat nader kom. Hulle moet by jou wees en vir jou werk. Jy en jou seuns saam met jou moet by die tent wees waarin die tien gebooie is. Die Leviete moet jou help met jou werk en met die werk by die hele tent. Maar hulle moenie by die gewyde gereedskap en die altaar kom nie. As hulle dit doen, dan sal hulle én julle sterf. Die Leviete moet by jou wees en hulle moet die werk doen by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, hulle moet help met al die werk by die tent. Niemand anders mag naby julle kom nie. Julle self moet die werk by die tempel-tent en die altaar doen. Dan sal Ek nie weer kwaad word vir die Israeliete nie. Ek self het julle familie, die Leviete, weggeneem tussen die Israeliete. Ek het hulle vir My geneem om die werk te doen by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help. Maar jy en jou seuns moet die priesters wees wat die werk doen by die altaar en in die kamer agter die gordyn. Ek gee daardie werk vir julle. Maar wanneer iemand anders daardie werk doen, dan sal hy sterf.” Die Here het vir Aäron gesê: “Ek self het vir jou gesê jy moet kyk dat mense die regte offers vir My bring. Ek gee van nou af vir jou al die gewyde presente wat die Israeliete vir My bring. Dit sal altyd aan jou en jou seuns behoort, dit is wat julle moet kry. Jy moet die deel van die hoog-gewyde offers kry wat julle nie verbrand nie, dit is al die koring-offers, al die sonde-offers, al die skuld-offers. Dit is al die hoog-gewyde offers wat die Israeliete vir My bring. Jy en jou seuns moet dit kry. Dit is hoog-gewyde dinge, maar julle mag dit eet. Elke man of seun in jou familie mag dit eet. Dit moet vir julle gewyde dinge wees.

NUMERI 18:2-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is. En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie. Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en 'n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie. En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie. Want Ek self het julle broers, die Leviete, onder die kinders van Israel uit geneem as 'n geskenk vir julle, mense wat aan die HERE gegee is om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig. Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As 'n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word. Verder het die HERE met Aäron gespreek: Ek self het jou die diens van my offergawes gegee; wat betref al die heilige gawes van die kinders van Israel, aan jou gee Ek dit as aandeel en aan jou seuns as ewige insetting. Van die hoogheilige gawes, met uitsondering van wat verbrand word, moet dít joue wees: al hulle offers, naamlik elke spysoffer en elke sondoffer en elke skuldoffer van hulle, wat hulle My bring — as iets hoogheiligs moet dit vir jou en jou seuns wees. In 'n hoogheilige plek moet jy dit eet; almal wat manlik is, mag dit eet; heilig moet dit vir jou wees.

NUMERI 18:2-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jy moet jou Levitiese ampsgenote uit jou stam na jou toe laat kom dat hulle by jou kan aansluit en jou kan help. Jy en jou seuns moet die ampspligte by die tent met die getuienis verrig. Die Leviete is tot jou beskikking vir al die diens by die tent. Hulle mag egter nie die offergereedskap hanteer om op die altaar te offer nie, want dan sal hulle en julle sterf. Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie. Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie. Ek het julle Levitiese ampsgenote uit die Israeliete afgesonder as my geskenk aan julle. Hulle behoort aan My vir die werk by die tent van ontmoeting. Maar net jý en jou seuns mag as priesters diens doen en al die werk by die altaar en agter die voorhangsel verrig. Dat julle die priesterskap mag beklee, is 'n geskenk van My aan julle. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.” Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om toesig te hou oor die offergawes wat vir My gebring word. Ek gee aan jou en jou seuns 'n deel van al die gewyde gawes wat deur die Israeliete gebring word. Dit is 'n vaste instelling. Die deel van die besondere gewyde gawes wat nie verbrand word nie, kom jou toe. Dit geld van al die offergawes wat die Israeliete vir My bring as besondere gewyde gawes, of dit graanoffers, sondeoffers of skuldoffers is. Dit behoort aan jou en jou seuns. Wanneer jy dit eet, moet jy onthou dat dit besondere gewyde gawes is. Elke manspersoon uit jou familie mag dit eet. Dit moet ook vir jóú gewyde gawes wees.

NUMERI 18:2-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, sodat hulle by jou kan aansluit en jou kan bystaan waar jy en jou seuns saam met jou voor die tent met die Getuienis is. Hulle moet van jou verpligtinge nakom, en ook verpligtinge in verband met die hele •tabernakel. Maar naby voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, sodat hulle nie sterf nie – nie hulle nie, en ook nie julle nie. Hulle moet by jou aansluit en die verpligtinge by die Tent van Ontmoeting nakom, ja, al die werk by die tent. Maar 'n onbevoegde persoon mag nie naby julle kom nie. Julle moet die verpligtinge by die heiligdom en die altaar nakom, sodat die Israeliete nie weer deur 'n oordeel uit toorn getref word nie. Wat My betref, kyk, Ek het julle broers, die Leviete, uit die Israeliete geneem as 'n geskenk vir julle. Hulle is aan die HERE afgestaan om die werk by die Tent van Ontmoeting te doen. Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesterdiens nakom, in alle sake by die altaar en agter die voorhangsel. Daar moet julle diens doen. As 'n geskenk met die oog op dienslewering gee Ek julle priesterskap aan julle. Maar 'n onbevoegde persoon wat daar indring, moet doodgemaak word.” Die HERE het vir Aäron gesê: “Wat My betref, kyk, Ek het aan jou die verpligting in verband met my •wydingsgeskenke toevertrou. Al die •heilige gawes van die Israeliete – aan jou en aan jou seuns gee Ek dit as 'n geskenk, as 'n deel wat hulle altyd moet kry. Die volgende van die •besonder heilige gawes, dit wat nie verbrand word nie, is wat jou toekom: al hulle offers – al hulle •graanoffers, al hulle •reinigingsoffers en al hulle •hersteloffers wat hulle vir My bring. Die besonder heilige gawes kom jou en jou seuns toe. Op 'n besonder heilige plek moet jy dit eet. Elke manspersoon mag dit eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees.

NUMERI 18:2-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En ook jou broers uit die stam van Levi, die stam van jou vader, bring jou saam, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien; maar jy en jou seuns saam met jou moet dien voor die tent van die getuienis. En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tabernakel; maar hulle mag nie naby die voorwerpe van die heiligdom en die altaar kom nie, sodat hulle nie en ook julle ook nie sterwe nie. En hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem vir die hele dienswerk van die tent; en 'n vreemdeling mag nie na jou toe kom nie. En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar geen toorn meer oor die kinders van Israel kom nie. En kyk, Ek het julle broers, die Leviete, uit die kinders van Israel geneem; aan julle is hulle gegee as 'n geskenk aan die HERE, om die diens van die tent van samekoms te verrig. Daarom moet jy en jou seuns saam met jou jou priesteramp behartig vir alles van die altaar en binne-in die voorhangsel; en julle moet dien: Ek het julle priesteramp aan julle gegee as 'n geskenk; en die vreemdeling wat naby kom, moet gedood word. En die HERE het met Aäron gespreek: Kyk, Ek het jou ook die diens gegee van my hefoffers van al die heilige gawes van die kinders van Israel; Ek het hulle aan jou gegee ter wille van die salwing, en aan jou seuns, volgens 'n ewige insetting. Dit sal joue wees van die allerheiligste dinge wat van die vuur bewaar word: al hulle spysoffer, al hulle spysoffer en al hulle sondoffers en al hulle skuldoffers wat hulle aan My moet gee, sal die hoogste wees en heilig vir jou en vir jou seuns. In die Allerheiligste moet jy dit eet; al wat manlik is, moet dit eet; heilig moet dit vir jou wees.

NUMERI 18:2-10 Die Boodskap (DB)

Kry manne uit die stam van Levi om jou en jou seuns met julle pligte by die tent te help. Hulle mag julle help met alles wat julle in die tent moet doen. Maak net seker dat hulle nie naby die altaar kom of aan die offergereedskap vat nie, want dan sal julle beslis almal doodgaan. Hulle is die enigste mense wat julle mag help met die take wat in die tent gedoen moet word. Iemand wat nie ’n Leviet is nie, mag nie daar naby kom nie. Maar net jy en jou seuns mag diens doen in die heilige deel van die tent en die offers op die altaar bring. As julle dit presies doen soos Ek sê, sal Ek, die Here, nie weer vir Israel straf nie. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help. Hulle is opsy gesit om in die tabernakel vir My diens te doen. Hulle behoort aan My. Maar net jy en jou seuns mag die werk van die priesters doen, daar by die altaar en agter die gordyn in die heiligste deel van die tent. My geskenk aan julle is dat julle priesters mag wees in my diens. As iemand anders wat nie ’n priester is nie, dit probeer doen, moet hy doodgemaak word.” Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou uitgekies om toesig te hou oor al die offers wat vir My gebring word. Al daardie dele van die offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Hierdie reël geld vir altyd. Selfs daardie dele van die spesiale offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Dit sluit elkeen van die volgende soorte offers in: graanoffers, sondeoffers en skuldoffers. Hierdie dele van die offers wat julle toekom, moet julle in ’n afgesonderde plek eet. Julle moet onthou dat hierdie kos baie spesiaal is omdat dit eintlik aan My behoort. Slegs die mans mag daarvan eet.

NUMERI 18:2-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Bring die ander lede van die Levistam en laat hulle by jou aansluit om jou te help. Jy en jou seuns kan dan konsentreer op die tabernakel. Pas op dat hulle nie aan die ark of enigiets daar by die tabernakel vat wanneer hulle hulle werk daar doen nie. Nóg julle nóg hulle sal dan bly lewe. Hulle moet die diens by die tabernakel verrig en hulle pligte uitvoer. Iemand wat nie ’n Leviet is nie, mag egter nie daar naby kom nie. Julle moet self die dienswerk in die heiligdom en by die altaar doen. As julle aan hierdie reël hou, sal die HERE nie weer in woede uitbars teen die Israeliete nie. “Ek het self die Levistam uit al die Israeliete gekies om julle te help. Hulle is aan die HERE afgestaan om die werk by die tabernakel te doen. Jy, saam met jou seuns, moet egter die priesterwerk doen. Julle doen alles wat by die altaar en binne die tabernakel agter die skeidingsgordyn gebeur. Ek het die priesterwerk spesiaal net vir julle gegee. As enigiemand anders dit doen, sal hy nie bly leef nie.” Die HERE het verder ook nog vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om al die dinge wat die Israeliete vir My bring, te ontvang. Ek het bepaal dat dit aan jou en jou seuns behoort. Dit sal altyd so wees. Die dele van die heel heiligste offers wat nie in die vuur geoffer word nie, is joune. Daardie gedeeltes van die maaltydoffer, sonde-offer en skuldoffer wat die volk vir My bring, kom jou en jou seuns toe. Julle kan dit eet. Julle moet dit egter sien as iets wat besonder heilig is. Al die mans mag daarvan eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees.