Obadja 1:1-8
Obadja 1:1-8 AFR20
Die openbaring aan Obadja. Dit is wat die Here, my Heer oor Edom gesê het. Ja, ons het 'n boodskap gehoor wat van die Here af kom. 'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur: “Staan op! Laat ons gereedmaak vir oorlog teen Edom!” “ Kyk, gering maak Ek jou onder die nasies; jy sal heeltemal verag word. Die verwaandheid van jou hart bedrieg jou, jy wat tuis is in die rotsskeure van jou hoë woonplek, wat in jou hart sê, Wie sal my afbring aarde toe? Al sou jy jou nes so hoog maak soos dié van 'n arend, selfs al sou jy tussen die sterre nes maak, van daar af sal Ek jou afbring,” is die uitspraak van die Here. “ Was dit maar diewe wat na jou toe gekom het, was dit maar diewe in die nag! Hulle steel darem net tot hulle genoeg het. Hoe word jy vernietig! Was dit maar druiweplukkers wat na jou toe gekom het! Hulle laat darem natrossies agter. Hoe word Esau deursoek, sy wegsteekplekke kaal gestroop! Almal met wie jy 'n verbond gesluit het, stuur jou terug tot by die landsgrens. Hulle het jou bedrieg, jou uitoorlê, daardie mense met wie jy 'n vredesooreenkoms het. Hulle wat saam met jou geëet het, laat 'n vreemde jou plek inneem. Daar is nie meer raad in Edom oor nie!” “Sal Ek nie op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “wyse manne uit Edom laat verdwyn en raadgewers uit die bergland van Esau nie?”


