Spreuke 17:1-28

Spreuke 17:1-28 AFR20

'n Stukkie droë brood, met rus daarby, is beter as 'n huis vol •maaltydoffers, met 'n getwis daarby. 'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en sal saam met die broers deel in die erfenis. 'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, maar die HERE toets harte. 'n Kwaaddoener gee aandag aan lippe vol boosheid; 'n leuenaar spits sy oor vir 'n tong vol vernietiging. Wie 'n arme bespot, beledig sy Maker; wie bly is oor teenspoed, sal nie ongestraf bly nie. Die kroon van oumense is kleinkinders, en die roem van kinders is hulle ouers. Breedsprakigheid pas nie by 'n nikswerd nie – hoeveel minder nog leuentaal by 'n vooraanstaande persoon! 'n Omkoopgeskenk is 'n gelukbringer in die oë van wie dit besit – waar hy hom ook al heen wend, hy gaan sukses behaal! Wie 'n oortreding bedek, streef na liefde, maar wie 'n saak telkens ophaal, skei boesemvriende. 'n Dreigement maak 'n groter indruk op iemand met insig as honderd houe op 'n dwaas. 'n Slegte mens streef net na opstand, en 'n hartelose boodskapper word teen hom uitgestuur. 'n Beer van haar kleintjies beroof kan eerder op 'n mens afkom, as 'n dwaas in sy sotheid. As iemand goed met kwaad vergeld, sal onheil nie sy huis verlaat nie. Die begin van 'n stryd is water wat deurbreek. Laat dit vaar voor die getwis losbars! Hy wat 'n goddelose vryspreek, en hy wat 'n regverdige skuldig verklaar, is albei afstootlik vir die HERE. Waarom is daar geld in 'n dwaas se hand? Is dit om wysheid te koop, terwyl hy geen verstand het nie? 'n Vriend betoon te alle tye liefde, en 'n broer is gebore vir tye van nood. 'n Mens sonder verstand gee hand; hy staan borg vir sy medemens. Wie van oortreding hou, hou van rusie; wie sy ingang hoog bou, vra vir ineenstorting. Wie 'n valse hart het, vind nie die goeie nie, en wie bedrieglik met sy tong is, beland in die moeilikheid. Wie 'n dwaas verwek – tot verdriet is dit vir hom; en die vader van 'n nikswerd sal geen blydskap ervaar nie. 'n Vrolike hart is goed vir herstel, maar 'n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog. 'n Omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed – 'n goddelose aanvaar dit om die reg te dwarsboom. Iemand met insig hou wysheid voor oë, maar die oë van 'n dwaas is gerig op die eindes van die aarde. 'n Dwase seun is 'n ergernis vir sy vader, en 'n bitterheid vir haar wat hom in die wêreld gebring het. Om 'n regverdige 'n boete op te lê, is alreeds nie goed nie; om vooraanstaandes te slaan, druis in teen wat reg is. Wie sy woorde terughou is vertroud met kennis, en wie grootmoedig van gees is, is 'n skerpsinnige mens. Selfs 'n sot wat stilbly, word as wys beskou, as verstandig, wanneer hy sy lippe dig hou.