Psalms 81

81
1Vir die •musiekleier. Op Haghittiet. Van Asaf.
2 Jubel tot eer van God, ons krag,
juig tot eer van die God van Jakob.
3Begin die begeleiding,
speel op tamboeryne,
op lieflike liere en op harpe.
4Blaas •ramshorings met nuwemaan,
met volmaan vir ons feesdag;
5want dit is 'n vaste instelling vir Israel,
'n beslissing van die God van Jakob.
6As 'n bepaling het Hy dit neergelê
vir Josef toe Hy uitgetrek het
teen Egipteland.
In 'n taal wat ek nie ken nie, hoor ek:
7“Ek het die las van sy skouer verwyder;
sy hande is vry van die dramandjie.
8Toe daar nood was, het jy geroep,
en Ek het jou uitgered.
Ek het jou geantwoord uit die
beskutting van die donderwolk;
Ek het jou getoets by die water
van Meriba. •Sela
9“Luister, my volk,
Ek wil jou waarsku, Israel;
as jy maar net na My sal luister:
10Daar mag by jou
nie 'n vreemde god wees nie,
jy mag nie voor 'n uitlandse god
in aanbidding buig nie.
11Ek, die Here, is jou God wat jou
uit Egipteland laat optrek het.
Maak jou mond wyd oop,
sodat Ek dit kan vul.
12“Maar my volk het nie na My
geluister nie,
Israel wou My nie gehoorsaam nie.
13Ek het hulle aan die verstoktheid
van hulle harte oorgelaat;
hulle het hulle eie raad gevolg.
14As my volk maar net na My
wou luister,
as Israel maar my paaie wou volg!
15Ek sou hulle vyande summier
verneder,
teen hulle teenstanders
sou Ek my hand draai.”
16Hulle wat die Here haat,
sal voor Hom onderdanigheid veins;
dit is hulle lot vir altyd.
17Maar Hy sal Israel
met die beste koring voed.
“Uit 'n rots sal Ek jou
met heuning versadig.”

Tans Gekies:

Psalms 81: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan