Openbaring 7:9-17

Openbaring 7:9-17 AFR20

Hierna het ek gesien, en kyk, daar was 'n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. Hulle het met 'n harde stem uitgeroep: “Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!” Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon, en God aanbid en gesê: “•Amen! Die lof, die heerlikheid en die wysheid, die dank en die eer, die krag en die sterkte kom ons God toe vir ewig en ewig. Amen!” In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan?” Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê: “Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God, waar hulle Hom dag en nag in sy •tempel dien. En Hy wat op die troon sit, sal sy tent by hulle opslaan. Hulle sal nie meer honger of dors word nie; nie die son nie, ook geen hittegloed sal hulle brand nie. Want die Lam wat in die middel voor die troon staan, sal hulle soos 'n herder versorg en hulle na fonteine met lewende water lei, en God sal elke traan uit hulle oë vee.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Openbaring 7:9-17