Rut 2:1-12

Rut 2:1-12 AFR20

Naomi het aan haar man se kant 'n familielid gehad, 'n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort. Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die HERE is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die HERE seën u,” antwoord hulle hom. Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is 'n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!” Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in 'n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.” Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om, en dit terwyl ek 'n buitelander is?” Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou vader, jou moeder en jou geboorteland verlaat het en dat jy na 'n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het. ”