O, hoe mooi is jy, my liefling,
hoe mooi is jy!
Jou oë is duiwe agter jou sluier,
jou hare 'n trop bokke wat teen
die berge van Gilead afstroom.
Jou tande is soos 'n kudde
pas geskeerde skape
wat van die drinkplek af opkom,
almal tweelinge,
nie een van hulle op sy eie nie.
Soos karmosynrooi lint is jou lippe,
jou mond is pragtig.
Agter jou sluier is jou slape
soos 'n oopgebreekte granaat.
Jou nek is soos die Dawidstoring
wat in kliplae gebou is,
waaraan 'n duisend skilde hang,
al die rondeskilde van die krygshelde.
Jou borste is soos twee
jong bokkies,
die tweeling van 'n ribbokooi,
wat tussen narsings wei.
Totdat die dag begin asemhaal
en die skaduwees vlug,
gaan ek na die mirreberg,
na die wierookheuwel.
Alles aan jou is mooi, my liefling,
jy is heeltemal vlekkeloos.
Kom saam met my
van die Libanon af, my bruid,
saam met my van die Libanon af.
Daal af van die kruin van Amana,
van die kruin van Senir,
van Hermon,
van die lêplekke van die leeus,
van die berge waar die luiperds hou.
Jy het my hart gesteel,
my suster, my bruid,
jy het my hart gesteel
met een kyk van jou oë,
met een kettinkie van jou halssnoer.
Hoe verruklik is jou liefkosings,
my suster, my bruid.
Hoeveel beter is jou liefkosings as wyn,
die geur van jou reukolie
as al die speserye.
Jou lippe drup heuning, my bruid,
heuning en melk is onder jou tong,
jou klere dra die geur van die Libanon.