Maak oop jou deure, Libanon, sodat vuur jou sederbome kan verteer! Huil, sipres, want 'n seder het geval, die magtige bome is verwoes! Huil, eike van Basan, want die digte bos is afgekap! Hoor die gehuil van die herders; want hulle aansien is verwoes! Hoor die gebrul van die jong leeus, want die trots van die Jordaan is verwoes! So sê die HERE my God: “Pas die kleinvee op wat geslag gaan word! Hulle kopers maak hulle dood sonder om daarvoor te boet, en hulle verkopers sê, ‘Prys die HERE, ek word ryk!’ Hulle herders het nie medelye met hulle nie. Ja, Ek sal nie langer medelye met die inwoners van die land hê nie,” is die uitspraak van die HERE. “Kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy medemens en van sy koning. Hulle sal die land vernietig en Ek sal niemand uit hulle hande red nie.” Ek het die kleinvee wat geslag gaan word, en aan die kleinveehandelaars behoort, opgepas. Ek het vir my twee herderstokke geneem; die een het ek Welwillendheid genoem en die ander een Samehorigheid. So het ek die kleinvee opgepas. Van drie herders het ek in een maand ontslae geraak. Ek het ongeduldig geraak met hulle; ook hulle het 'n afkeer in my gekry. Toe sê ek: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat sterf, maar sterf; laat dié wat wegraak, maar wegraak; en laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het my herderstok, Welwillendheid, geneem en dit in stukke gebreek, om so die verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. Dit is op daardie dag verbreek. Die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het toe besef dat dit die woord van die HERE was.
Lees Sagaria 11
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Sagaria 11:1-11
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's