HULLE het ook kunstige klere van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe gemaak om in die heiligdom te dien. Ook het hulle die heilige klere vir Aäron gemaak soos die HERE Moses beveel het.
En hy het die skouerkleed gemaak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
En hulle het van die goud dun plate geslaan, en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en in die fyn linne — 'n kunstige werk.
Hulle het daar skouerstukke aan gemaak wat aan mekaar vas was; aan die twee bo-ente was dit saamgevoeg.
En die band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, soos die HERE Moses beveel het.
Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in kassies van goud, gegraveer soos op 'n seëlsteen ingesny word, volgens die name van die kinders van Israel.
En hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene aan die kinders van Israel, soos die HERE Moses beveel het.
Hy het ook die borstas van kunstige werk gemaak soos die werk van die skouerkleed; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
Dit was vierkantig; dubbel gevou het hulle die borstas gemaak; 'n span sy lengte en 'n span sy breedte, dubbel gevou was dit.
En hulle het daarin vier rye stene ingevul: 'n ry met 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag was die eerste ry.
En die tweede ry: 'n karbonkel, 'n saffier en 'n jaspis.
En die derde ry: 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis.
En die vierde ry: 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n sardoniks; hulle is in kassies van goud vasgesit by hulle invulling.
En die stene was volgens die name van die kinders van Israel twaalf, volgens hulle name. Soos op 'n seëlsteen uitgesny word, was hulle vir twaalf stamme, elkeen volgens sy naam.
Hulle het ook by die borstas gedraaide kettings gemaak, soos toutjies gedraai, van suiwer goud;
en hulle het twee goue kassies en twee goue ringe gemaak, en die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas bevestig,
en hulle het die twee goue toutjies aan die twee ringe aan die bo-ente van die borstas vasgemaak.
Maar die twee ander ente van die twee toutjies het hulle aan die twee kassies vasgemaak en dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed bevestig, aan die voorkant daarvan.
Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dié aan die twee onder-ente van die borstas bevestig, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
En hulle het twee goue ringe gemaak en dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed bevestig, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.
En hulle het die borstas, met sy ringe, aan die ringe van die skouerkleed met 'n pers toutjie vasgebind, sodat dit bo die band van die skouerkleed sou wees en die borstas nie van die skouerkleed kon afskuiwe nie, soos die HERE Moses beveel het.
En hy het die mantel van die skouerkleed van wewerswerk gemaak, heeltemal van pers stof.
En die opening van die mantel was in die middel daarvan soos die opening van 'n pantser; die opening het 'n soom rondom gehad, dat dit nie sou skeur nie.
En aan die soom van die mantel het hulle granaatjies gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, aan die soom van die mantel rondom, tussen die granaatjies in:
'n klokkie en 'n granaatjie, 'n klokkie en 'n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom, vir die diens, soos die HERE Moses beveel het.
Hulle het ook die rokke van fyn linne gemaak, van wewerswerk, vir Aäron en sy seuns;
en die tulband van fyn linne en die pronkmusse van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraad-linne;
en die gordel van fyn dubbeldraad-linne en van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, veelkleurige werk, soos die HERE Moses beveel het.
Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op 'n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN DIE HERE.
En hulle het 'n pers toutjie daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig, soos die HERE Moses beveel het.