Hulle het die klere wat Aäron en sy seuns moes dra wanneer hulle by die tent gaan werk het, van blou, pers en bloedrooi materiaal gemaak. Hulle het Aäron se klere presies net so gemaak soos die Here gesê het dit gemaak moes word.
Die deel wat oor Aäron se skouers moes kom, is van geweefde linne gemaak, waarin gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol geborduur is. Hulle het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Die goue drade is dan op kunstige manier saam met die blou, pers en bloedrooi wol in die materiaal ingeweef. Hulle het twee bande gemaak om dit oor die skouers vas te knoop. Hulle het die gordel waarmee die skouerkleed om die heupe vasgemaak word, op dieselfde manier borduur met gouddraad, en blou en pers en bloedrooi wol, net soos die Here vir Moses gesê het.
Nadat hulle onikssteen poleer het, het hulle dit in goud vasgesit en die name van die families van die Israeliete kunstig daarop gegraveer. Dit is op die skouerbande van die kledingstuk vasgesit sodat die name op die stene Israel kon verteenwoordig. Dit is alles gedoen presies net soos die Here vir Moses gesê het.
Die sak wat voor die bors kom, was ’n kunswerk. Hulle het dit net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne gemaak wat met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm. Dit was vierkantig en 25 sentimeter lank en breed. Hulle het twaalf soorte halfedelstene daarop vasgesit, gerangskik in vier rye van drie elk. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag; in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis; in die derde hiasint, agaat en ametis, en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit is in ’n montering van goud vasgesit. Die twaalf name van die families van Israel is elkeen op een van die twaalf stene gegraveer soos op ’n seëlring.
Hulle het vir die sak goue kettinkies uit suiwer goud gemaak wat soos tou gevleg is. Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dit aan die twee boonste hoeke van die sak vasgesit. Die kettinkies is toe aan die ringe vasgesit. Die ander punte van die kettinkies is vasgesit aan die monterings op die bande van die deel wat oor die skouers kom. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en hulle vasgewerk aan die onderste twee hoeke van die sak wat voor die bors kom. Dit is vasgewerk aan die binnekant waar dit teen die skouerkleed kom. Twee verdere ringe is laag af vasgewerk waar die gordel kom, aan die bande van die skouerkleed. Hulle het toe die onderste twee ringe van die borssak met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgesit, sodat dit nie laer as die gordel kon afsak nie. Dit was presies soos die Here vir Moses gesê het hulle dit moet maak.
Hulle het die deel wat bo-oor die deel gaan wat oor die skouers is, uit een stuk blou materiaal gemaak. Dit het in die middel ’n gat gehad waardeur die kop gesteek kon word. Die opening is omgeboor en versterk sodat dit nie kon skeur nie. Reg rondom die kleed, al op die soom van die kleed, het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk, wat met goue klokkies afgewissel is. Dit was soos die Here gesê het dit moet wees.
Hulle het ook vir Aäron en sy seuns stelle klere van fyn linne gemaak vir hulle werk by die tent. Daar was gordels en mooi hoede en linnebroeke en serpe van goed geweefde linne, gestik met blou, pers en bloedrooi wol. Dit was soos die Here gesê het dit moes lyk.
Hulle het ook vir Aäron se hoed ’n blom van suiwer goud gemaak. Hulle het met kunstige letters daarop gegraveer: “Vir die Here alleen.” Dit is aan die voorkant van die hoed vasgeknoop met ’n blou toutjie. Dit was alles presies soos die Here vir Moses gesê het dit gemaak moet word.