JOHANNES 11:1-21

JOHANNES 11:1-21 AFR53

EN daar was 'n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was. Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek. En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan. Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie. Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan. En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe. Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was. En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan. En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos. En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit. En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.

Video vir JOHANNES 11:1-21