Verder, as daar by 'n man of vrou 'n aangetaste plek aan die hoof of in die baard is,
en die priester die plek bekyk en sien dat dit dieper lyk as die vel, en daar geel dun hare op is, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is skurfte, dit is melaatsheid van die hoof of van die baard.
Maar as die priester die plaag van skurfte bekyk en sien dat dit nie dieper as die vel lyk nie, en daar geen swart hare op is nie, dan moet die priester die deur skurfte aangetaste persoon sewe dae lank opsluit.
Bekyk die priester dan op die sewende dag die aangetaste plek en sien hy dat die skurfte nie versprei het nie, en daar geen geel hare op is nie, en die skurfte nie dieper lyk as die vel nie,
dan moet die persoon hom skeer, maar die skurwe plek moet hy nie skeer nie, en die priester moet die skurwe persoon nog 'n keer sewe dae lank opsluit.
Bekyk die priester dan die skurfte op die sewende dag en sien hy dat die skurfte nie in die vel versprei het nie en dit nie dieper as die vel lyk nie, dan moet die priester hom rein verklaar. En hy moet sy klere was en sal rein wees.
Maar as die skurfte werklik in die vel versprei nadat hy rein verklaar is,
en die priester dit bekyk en sien dat die skurfte in die vel versprei het, dan hoef die priester nie na die geel hare te soek nie; hy is onrein.
Maar as die skurfte, volgens hy kan sien, dieselfde gebly en swart hare daarop gegroei het, dan is die skurfte gesond. Hy is rein, en die priester moet hom rein verklaar.
Verder, as 'n man of vrou in die vel van hulle vlees ligte vlekke, wit vlekke het,
en die priester sien dat daar dowwe wit vlekke in die vel van hulle vlees is, dan is dit gewone uitslag wat in die vel uitgebreek het; hy is rein.
En as 'n man se hoof kaal word, is hy 'n kaalkop; hy is rein.
En as sy hoof aan die voorkant kaal word, het hy 'n bles; hy is rein.
Maar as daar in die kaalte of in die bles 'n rooierige wit plek is, dan is dit melaatsheid wat uitbreek in die kaalte of in die bles.
As die priester dit bekyk en sien dat die swelsel van die aangetaste plek in die kaalte of in die bles rooierig wit is, wat lyk soos die melaatsheid van die vel van die vlees,
dan is hy 'n melaatse, hy is onrein; die priester moet hom sekerlik onrein verklaar; op sy hoof het hy die plaag.
Verder moet in die klere van die melaatse op wie die plaag is, skeure wees, en sy hare moet los hang; ook moet hy sy baard bedek en roep: Onrein, onrein!
Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. Onrein is hy; alleen moet hy woon; buitekant die laer moet sy woning wees.
Verder, as daar in 'n kledingstuk die plaag van melaatsheid is, in 'n kledingstuk van wol of linne;
of in die skeerdraad of die inslag van linne of wol, of in 'n vel of enige leerwerk;
en die aangetaste plek in die kledingstuk of in die vel of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp liggroen of rooierig is, dan is dit 'n plaag van melaatsheid, en hulle moet die priester dit laat sien.
Die priester moet dan die aangetaste plek bekyk en die aangetaste voorwerp sewe dae lank opsluit.
Dan moet hy op die sewende dag die plek bekyk; as die plaag versprei het in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in die vel, vir watter diens die vel ook al verwerk is, dan is die plaag 'n kwaadaardige melaatsheid; so iets is onrein.
Daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van linne of enige leervoorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand; want dit is 'n kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word.
Maar as die priester sien dat die plek in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp nie versprei het nie,
dan moet die priester beveel dat hulle die voorwerp was waar die plek aan is; en hy moet dit nog 'n keer sewe dae lank opsluit.
As die priester dan die aangetaste voorwerp bekyk, nadat dit gewas is, en sien dat die plek nog net so lyk, hoewel die plek nie versprei het nie, dan is dit onrein; jy moet dit met vuur verbrand. Dit is 'n invreting aan die agter- of aan die voorkant.
Maar as die priester sien dat die plek, nadat dit gewas is, dof van kleur geword het, dan moet hy dit uit die kledingstuk of uit die vel of uit die skeerdraad of die inslag uitskeur.
Maar as dit nog in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp gesien word, dan is dit 'n melaatsheid wat weer uitbreek; jy moet die aangetaste voorwerp met vuur verbrand.
Maar die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag of enige leervoorwerp wat jy was — as die plek daaruit verdwyn het, moet dit nog 'n keer gewas word, en dit sal rein wees.
Dit is die wet oor die plaag van melaatsheid in 'n kledingstuk van wol of linne of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp, om dit rein of onrein te verklaar.