EN omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid.
En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit.
En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía.
Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring.
En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan.
En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir Elía — hy het nie geweet wat hy sê nie.
Maar toe hy dit sê, kom daar 'n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan.
En daar kom 'n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!
En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie.
EN op die volgende dag toe hulle van die berg afklim, kom 'n groot skare Hom tegemoet.
En daar roep 'n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste.
En kyk, 'n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom.
En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie.
Toe antwoord Jesus en sê: O Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.
En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader teruggegee.
En almal was verslae oor die majesteit van God. En toe almal verwonderd was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels:
Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense.
Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor hierdie woord.
EN daar het 'n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was.
En toe Jesus die redenering van hulle hart opmerk, neem Hy 'n kindjie en laat dié by Hom staan
en sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.
EN Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie.
Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vír ons.
EN toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,
en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.
En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was.
En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het?
Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie