SPREUKE 5
5
Waarskuwing teen die ontugtige vrou.
1MY seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig,
2dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar;
3want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie,
4maar op die end is sy bitter soos wildeals, soos 'n swaard aan weerskante skerp.
5Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe.
6Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet.
7Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie.
8Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
9sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie;
10sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie
11en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is,
12en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad,
13en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie!
14Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente.
15Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put.
16Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?
17Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.
18Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug —
19die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.
20Maar waarom sou jy, my seun, by 'n vreemde bedwelmd raak en die boesem van 'n ontugtige omhels?
21Want elke mens se weë is voor die oë van die Here, en Hy weeg al sy gange.
22Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.
23Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.
Tans Gekies:
SPREUKE 5: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.