1 Johannes 3:18-24

1 Johannes 3:18-24 DB

My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is. So sal ons daarvan seker kan wees dat wat ons doen uit die fontein van God se waarheid borrel. Ons sal met vertroue voor God self kan staan. Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie. Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak. Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê. Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.