2 Timoteus 2:3-13

2 Timoteus 2:3-13 DB

Ons kan sê jy is soos ’n soldaat van Christus. ’n Soldaat van Christus sal nie omgee om saam met die ander soldate swaar te kry vir Christus nie. ’n Soldaat se werk is om te doen wat sy bevelvoerder vra. Hy moet hom nie besig hou met allerhande ander dingetjies wat niks met sy werk as soldaat te doen het nie. Laat ek nog ’n voorbeeld gee. Sê nou ’n atleet neem aan ’n resies deel. Hy sal net kan wen as hy al die reëls mooi nagekom het, anders word hy gediskwalifiseer. Of dink aan dié voorbeeld: ’n boer wat hard werk, kan darem seker eerste van die vrugte van die oes proe. Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan. Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Koning Dawid was sy voorvader. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak. Dit is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie. Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ’n Christen te wees. Dit is iets wat niemand van ons kan wegvat nie. Dit sal vir ewig duur. Ek praat die waarheid: as ons saam met Jesus gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef. As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers. As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê. As ons Hom egter in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie ... sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie.