Handelinge 2:38-43

Handelinge 2:38-43 DB

“Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang. Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.” Petrus het toe nog ’n hele ruk met die skare gepraat. “Gee pad uit hierdie sondige wêreld uit,” het hy vir hulle gesê. “Dit gaan julle lewe totaal verwoes. Kom na God toe. Laat Hy julle uit die kloue van die sonde verlos. Net Hy kan dit doen.” Na Petrus se woorde het ’n groot aantal mense, omtrent 3 000, tot bekering gekom. Daarna is hulle gedoop. Van toe af het hierdie nuwe gelowiges gereeld bymekaargekom om te hoor wat die apostels leer. Hulle het nou in ’n splinternuwe verhouding met God en met mekaar gestaan. Hulle het ook gereeld saamgeëet en saamgebid. Die apostels het groot wonderwerke onder hulle gedoen. Al die gelowiges het groot eerbied vir God gehad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 2:38-43