Kolossense 3:8-10

Kolossense 3:8-10 DB

Maar daardie tyd is nou vir julle verby. Dit beteken natuurlik dat al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, ook vir julle iets van die verlede moet wees. Sal ek vir julle ’n paar opnoem? Dink maar aan ’n slegte humeur of om oor alles te wil baklei. Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie. Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie. Praat die waarheid met mekaar. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere. God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees. Hy wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie.