Koning Nebukadnesar het die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Mag daar vrede en voorspoed vir julle wees! “Ek wil julle vertel van al die tekens en wonders wat die allerhoogste God my laat sien het. “Hoe asemrowend is sy tekens! Hoe ongelooflik is sy wonders! God is vir ewig koning en Hy heers vir ewig! “Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gebly. Maar toe een aand terwyl ek op my bed gelê en slaap het, het ek ’n skrikwekkende droom met vreesaanjaende visioene gehad. Ek het toe beveel dat al die koninklike raadgewers na my toe moes kom om die droom vir my te kom uitlê. Al die towenaars, toekomsvoorspellers, sterrevoorspellers en besweerders het toe na my toe gekom. Ek het vir hulle vertel wat ek gedroom het, maar nie een van hulle kon dit vir my verklaar nie. Uiteindelik het Daniël, ook genoem Beltsasar na die naam van my god, na my toe gekom. Die Gees van die heilige God is in hom en ek het vir hom van my droom vertel. Ek het vir hom gesê: Hoofraadgewer Beltsasar, ek weet dat die Gees van die heilige God in jou is en dat daar nie ’n geheim is wat jy nie kan verklaar nie. Kom ek vertel jou wat ek gedroom het, dan verklaar jy dit vir my. “Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: ek het ’n groot boom in die middel van die aarde sien staan. Hierdie boom het al hoe groter en sterker geword totdat die top daarvan naderhand aan die hemel geraak het en die hele wêreld dit kon sien. Sy blare was dig en lowergroen en daar was soveel vrugte aan die boom dat daar genoeg was vir almal om van te eet. Die wilde diere het in die skaduwee van die boom kom lê en rus en die voëls het in sy takke nes gemaak. Almal het van die boom se vrugte geëet. Terwyl ek nog so lê en droom, het ek ’n hemelse wese, ’n opsigter uit die hemel, sien kom. Hy het kliphard uitgeroep: ‘Kap af die boom. Sny sy takke af! Stroop hom kaal van al sy blare en vrugte! En jaag al die diere en voëls weg wat daar kom rus en nes maak het. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op ’n mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier. “‘Hierdie bevel is deur die hemelse opsigters gegee. Die engele maak hierdie dinge bekend. Die doel hiervan is om vir die hele wêreld te wys dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die aarde heers. Hy het die mag om dit te gee aan wie Hy wil, selfs al sou dit in die wêreld se oë onbelangrike mense wees.’ “Dit is die droom wat ek gehad het,” het koning Nebukadnesar gesê. “Beltsasar, nou moet jy vir my sê wat dit beteken. Nie een van my ander raadgewers kon dit vir my uitlê nie, maar jy kan, want die Gees van die heilige God is in jou.”
Lees Daniël 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Daniël 4:1-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's