“Toe ons nog by die berg Horeb was,” so het Moses sy lang rede begin, “het die Here gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Trek nou die land binne wat Ek aan julle beloof het. Slaan julle tente op en gaan na die bergland waar die Amoriete aan die westekant van die Jordaan bly. Verslaan die volke in die woestyndele, op die berge, in die kusvlakte en in die Suidland tot aan die kus van die Middellandse See. Trek die land van die Kanaäniete binne en oorwin die hele gebied van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat. Hierdie hele land gee Ek vir julle. Gaan vat dit vir julle. Dit is die land wat Ek nog aan Abraham, Isak, Jakob en hulle nageslag beloof het.’”
Moses het vir die volk gesê: “Julle sal nog onthou hoe ek by Horeb vir julle gesê het dat ek julle nie alleen kan help of lei nie. Die Here julle God het julle ’n groot volk gemaak. Ja, julle is al so baie soos die sterre aan die hemel. Mag die Here julle nog duisendvoudig vermeerder soos Hy julle voorouers beloof het. En mag julle almal ryk en gelukkig wees. Julle probleme het egter vir my te swaar geword. Ek alleen kan tog nie met al julle daaglikse probleme en hofsake help nie. Toe het ek vir julle gesê om verstandige en ervare mans uit elke stam van die volk aan te stel. Hulle moes julle dan lei en help. En julle het ingestem. Ek het toe mos hierdie verstandige en ervare mense as stamleiers aangestel. Hulle moes julle met die administrasie en die organisasie van die stamme help. Sommige het ek oor 1 000 mense, ander oor 100, 50 of tien mense aangestel. Vir elke stam was daar ook ’n sekretaris.
“Destyds het ek vir die regters gesê om altyd fyn na elkeen se saak te luister. Al was dit maar net ’n saak tussen ’n man en sy broer of die vreemdeling wat by hom woon, moes die regters regverdig oordeel. Hulle moes altyd onpartydig wees. Klein en groot moes billik verhoor word. Regters moes vir niemand bang wees nie, want die Here was by hulle. En as daar moeilike sake was, moes hulle dit na my toe bring.
“In daardie tyd toe ons nog by Horeb was, het ek julle ook nog ander voorskrifte gegee waarvolgens julle moes lewe.”
“Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom. Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee. ‘Kyk,’ het ek gesê, ‘die Here julle God het hierdie land aan julle gegee. Trek in en vat dit vir julle. Dit is wat die Here, die God van julle voorvaders, wil hê julle moet doen. En moenie bang wees nie. Trek net in.’
“Julle het egter na my toe gekom en gesê ons moet eers mense instuur om die land te gaan verken. Hulle moes ons van die roetes vertel en van die stede wat ons langs die pad gaan kry. Dit het vir my goed geklink en ek het twaalf mense, een uit elke stam, gekies om die land te gaan verken. Hulle is die bergland in en het so ver as die vallei van Eskol gekom. Hulle het van die vrugte gepluk en dit teruggebring. Hulle het ook kom vertel dat die land wat die Here vir ons gee, baie mooi is. Maar julle wou nie optrek nie. Toe het julle teen die Here in opstand gekom. Julle het in julle tente onder mekaar gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons net uit Egipte gelei sodat die Amoriete ons kan vernietig. En waar moet ons nogal in die nuwe land gaan woon? Ons is bang, want die verkenners het gesê dat die mense van die land baie meer en baie groter is as ons. En dat hulle in groot stede met baie hoë mure woon. Verder het hulle ook nog reuse daar gesien.’
“Ek het toe vir julle gesê om nie bang te wees nie. En dat die Here voor julle uit sal gaan en vir julle sal veg soos Hy destyds in Egipte gedoen het. Julle het self gesien hoe Hy julle in die woestyn gehelp het, net soos ’n man sy seun help. En hoe Hy julle tot by hierdie plek gelei het. Nogtans wou julle nie die Here julle God vertrou nie. Elke dag het Hy vir julle ’n plek gesoek om te kamp. Snags het Hy julle die pad met ’n groot vuur gewys en bedags met ’n wolk. Nogtans wou julle Hom nie vertrou nie.”
“Die Here het alles gehoor wat julle gesê het en Hy was kwaad, maar ook teleurgesteld. Dit is hoekom die Here vir julle gesê het: ‘Nie een van julle ongelowige spul sal die goeie land sien wat Ek vir julle wou gee nie. Slegs Kaleb die seun van Jefunne sal die land sien wat Ek vir julle gee. Hy was getrou aan My. Daarom gee Ek ’n deel van die land vir hom en sy kinders.’
“Oor al julle ongehoorsaamheid het die Here ook vir my kwaad geword en gesê: ‘Moses, selfs jy sal nie die land binnegaan nie. Jou helper, Josua die seun van Nun, sal dit wel sien. Praat hom moed in, want hy is die een wat Israel die nuwe land sal inlei.’ Die Here het verder vir almal gesê: ‘Julle klein kindertjies wat nog nie mooi weet wat reg en verkeerd is nie, sal die land binnetrek. Julle het gesê die vyand sal nog julle kinders in die woestyn doodmaak, maar Ek sal die Beloofde Land vir húlle gee. Die res van julle kan net sowel nou omdraai en deur die woestyn na die Skelfsee teruggaan. Julle sal die land wat Ek julle beloof het, nooit sien nie.’
“Toe julle dit gehoor het, het julle gesê: ‘Moses, ons het drooggemaak. Soos die Here vir ons gesê het, sal ons sommer dadelik die land binneval.’ En kan julle nog onthou wat toe gebeur het? Elkeen het sy wapens geneem en wou die land sommerso binneval.
“Toe het die Here weer gesê: ‘Moses, keer hulle. Ek gaan beslis nie saam met hulle nie. Daarom sal die vyand hulle vernietig.’ Ek het julle alles vertel wat die Here gesê het, maar weer het julle nie geluister nie. Julle het julle weer nie aan Hom gesteur nie en die land binnegeval. Toe het die Amoriete wat in die berge woon, op julle toegesak en julle soos bye agtervolg. Hulle het julle tot so ver as Horma en Edom verdryf. Julle het teruggekom en voor die Here gehuil, maar Hy het gemaak of Hy julle nie hoor nie. Daarna het ons ’n baie lang tyd in Kades-Barnea gebly.”