Job 11

11
Sofar antwoord Job
1Sofar, wat van Naäma af kom, het Job geantwoord en gesê: 2“’n Mens moet iemand antwoord wat so baie te sê het. Al die gepraat is nie ’n bewys dat jy onskuldig is nie. 3Moet ek stilbly terwyl jy aanhou met jou gebabbel? Iemand moet jou tog reghelp omdat jy met die Here spot. Jy behoort jou te skaam. 4Jy is baie seker van jouself as jy sê: ‘Wat ek glo, is reg’ en: ‘Vir die Here is ek onskuldig.’ 5Ek wens God wil praat en vir jou sê wat Hy dink! 6Ek wens Hy wil vir jou vertel wat die geheime van wysheid is. Ware wysheid is ingewikkeld; dit het meer as een kant. Dan sal jy insien dat God jou baie lig straf. Jy verdien eintlik om baie swaarder gestraf te word.
7“Dink jy jy verstaan wie God regtig is en wat Hy doen? God se mag is geweldig groot. Dink jy dat jy verstaan hoe magtig Hy regtig is? 8Die hemel is baie hoog. God is nog baie hoër as dit. So ook sy kennis. Jy kan nie daarby uitkom nie. En die doderyk is verskriklik diep. Sy kennis en insig is nog dieper as dit ook. Dit is nie iets wat jy sal kan verstaan nie. 9Dit is baie breër as die aarde en wyer as die see. 10Sê my ’n bietjie, as die Here iemand vat en hom in die tronk gooi, wie sal waag om Hom te stop? Wie sal Hom keer as Hy iemand voor die hof daag en straf? 11Hy weet wie skelm is. Hy weet ook van al die verkeerde dinge wat hulle doen. Hy sal dit nie vergeet nie. 12’n Mens kan nie uit ’n donkie gebore word nie. Net so min kan ’n dom mens kennis en insig kry.
13“Job, jy moet jou houding teenoor God regkry. Steek jou hande na Hom toe uit om te wys dat jy van Hom afhanklik is. 14Hou op om verkeerde dinge te doen. Moenie verkeerde goed in jou huis toelaat nie. 15Dan sal jy weer jou kop kan optel sonder om skaam te wees. Jy sal veilig kan voel en weet jy hoef nie bang te wees nie. 16Jy sal van al jou swaarkry kan vergeet. Dit sal soos water wees wat verbyloop en nie weer terugkom nie. Jy sal daarvan vergeet. 17Dit sal met jou goed gaan. Jou lewe sal meer lig hê as die son wat in die middag skyn. As daar donker tye in jou lewe kom, sal dit soos lig wees. 18Omdat jy weet daar is hoop vir jou, sal jy moed hê vir die toekoms. As jy klaar na alles om jou gekyk het, sal jy veilig kan slaap. 19Jy sal vir niks meer bang wees terwyl jy so lê en slaap nie. Baie mense sal in jou goeie boekies probeer wees. 20Die mense wat hulle nie aan die Here steur nie, sal alle hoop verloor. Hulle kan nêrens heen vlug nie. Hulle enigste hoop is om dood te gaan.”

Tans Gekies:

Job 11: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan