Matteus 10:39-42

Matteus 10:39-42 DB

Wie egter bereid is om aardse opofferings te maak omdat hy My bo alles liefhet, sal ontdek wat dit beteken om werklik te leef. “Ons almal werk mos in een span saam. As een lid van die span punte aanteken, is dit tog die hele span se punte. So is dit ook met ons. As iemand julle met oop arms aanvaar en julle vriend wil wees, is hy eintlik my vriend ook. En as hy my vriend is, is hy eintlik ook die vriend van my Vader wat My na julle toe gestuur het. As iemand bereid is om na die boodskapper van God te luister, sal hy mos God ook met hom hoor praat. Maak dus vriende met mense wat reg lewe, net soos julle. Julle wil tog graag doen wat God wil hê. God sal vir julle goed wees. “Luister mooi. Weet julle wie kan seker wees van sy plek by God in die hemel? Kom Ek sê vir julle: sê nou ’n vriend van My is dors. Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap nader met ’n beker koue water in sy hand. Hy gee dit vir my vriend. Saam met die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As die dors man vra: ‘Waarom doen jy dit?’ antwoord die ander man: ‘Omdat jy Jesus se vriend is.’ Wel, vir so iemand sal God ook sorg.” So het Jesus sy dissipels voorberei vir wat op hulle wag. Daarna is Jesus na die omliggende dorpies toe om die mense verder van God te vertel.