Matteus 27:27-44

Matteus 27:27-44 DB

Die goewerneur se soldate het Jesus in Pilatus se paleis ingevat en ’n klomp ander soldate geroep. Hulle pluk toe sy klere van Hom af en trek vir Hom pers klere aan. Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan. Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het. Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Jesus toe daar gekruisig. Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel.