Op die 24ste dag van dieselfde maand het die Israeliete vir ’n vasdag bymekaargekom. Om hulle hartseer oor hulle sonde te wys het hulle sakke in plaas van klere aangetrek en stof op hulle koppe gegooi om te wys dat hulle sondaars is. Die Israeliete wat alle bande met vreemdelinge verbreek het, het opgestaan en belydenis gedoen van hulle sonde. Hulle het ook om vergifnis gevra vir die oortredings van hulle voorouers. Hulle het net so bly staan terwyl die wet van die Here hulle God drie ure lank aan hulle voorgelees is. Toe het hulle daarna nog drie ure lank hulle sonde voor die Here hulle God bely en Hom aanbid. Op die verhoog het die Leviete Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani hardop tot die Here hulle God gebid. Daarna het die Leviete Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja gesê: “Prys die Here julle God. Hy ken geen begin of einde nie! U groot Naam moet geprys word. U roemryke Naam is verhewe bo alle lof en roem.”
U, Here, U is die enigste Here!
U het die hemel met al sy sterre en planete gemaak.
Ook die aarde met al sy bewoners en die see met alles daarin.
U gee lewe.
Daarom buig die hemelse skare in aanbidding voor U.
U, Here, is die God wat vir Abram geroep het,
U het hom laat wegtrek uit Ur van die Galdeërs uit en hom die naam Abraham gegee.
Toe U sien dat hy U alleen gedien het,
het U met hom ’n ooreenkoms aangegaan
dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete,
die Feresiete, die Jebusiete en die Girgasiete
aan hom en sy kinders sou gee.
U het u woord gehou omdat U onder alle omstandighede betroubaar is.
U het gesien hoe ons voorouers in Egipte gely het.
U het gehoor toe hulle ernstig om hulp geroep het by die Rietsee.
U het asemrowende wonders gedoen wat die farao, sy werkers en sy volk stomgeslaan het,
want U het geweet dat hulle u volk sonder enige respek behandel.
Daardeur het U vir U ’n groot en roemryke reputasie opgebou wat tot vandag toe onthou word.
U het vir hulle ’n pad deur die see gemaak
sodat hulle droogvoets daardeur kon loop.
Maar hulle vyande wat hulle agtervolg het,
het U in dieselfde see laat verdrink.
U het hulle soos ’n klip na die bodem toe laat sink.
Bedags het U met ’n wolkkolom voor hulle uitgetrek om vir hulle die pad te wys
en snags met ’n kolom van vuur, sodat hulle nie verdwaal het nie.
U het afgekom uit die hemel na die berg Sinai toe en uit u woonplek met hulle gepraat.
Die opdragte wat U vir hulle gegee het, was nie moeilik om te gehoorsaam nie.
U wette is vir altyd waar en geldig.
Dit wat U voorskryf, is goed en reg.
U het hulle geleer wat U van hulle verwag op die sabbat.
U het u wil baie duidelik in die gebooie en in al u ander wette bekendgemaak deur u dienaar Moses.
Toe hulle honger was, het U vir hulle brood uit die hemel gegee.
Toe hulle dors was, het U water uit ’n rots laat stroom waarvan hulle kon drink.
U opdrag aan hulle was om die land wat U aan hulle belowe het, in besit te gaan neem.
Maar ons voorvaders was verwaand en hardkoppig.
Hulle het geweier om te doen wat U sê.
Hulle wou nie luister nie.
Hulle het vergeet van al die wonderwerke wat U langs die pad gedoen het.
Hulle was vasbeslote om terug te gaan Egipte toe om weer slawe te wees.
Maar, God, U is bereid om te vergewe.
U is vol goedheid en ontferming,
U tree met deernis en liefde op.
Daarom het U hulle nie aan hulle eie lot oorgelaat nie.
Selfs toe hulle vir hulle ’n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van ’n kalf
en gesê het: “Hier is jou god wat jou uit Egipte gered het!”
en die vieslikste goed aangevang het,
het U in u oorvloedige liefde hulle nie in die woestyn aan hulle eie lot oorgelaat nie.
Die wolkkolom was steeds in die dag daar om vir hulle die pad te wys
en die vuurkolom om in die nag vir hulle lig te gee.
In u oorvloedige goedheid het U u goeie Gees gestuur om hulle te leer wat U van hulle verwag;
U het nie die manna van hulle teruggehou nie,
en as hulle dors was, het U vir hulle water gegee.
Veertig jaar lank het U hulle in die woestyn opgepas. Hulle het nooit iets nodig gehad nie.
Hulle klere het nie oud geword nie,
hulle voete het nie eens opgeswel van die baie loop nie.
U het hulle gehelp om magtige ryke en nasies te oorwin wat aan hulle eie gebied gegrens het.
Hulle het ook koning Gesbon se land, Sihon, en koning Og se land, Basan, oorgeneem.
U het hulle net soveel kinders gegee as wat daar sterre aan die hemel is.
U het die land wat U aan hulle ouers belowe het, vir hulle gegee om in te bly.
Hulle kinders het die land ingeneem.
U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, die knie laat buig voor hulle.
U het hulle mag gegee oor die konings en die volk van die land sodat hulle met hulle kon doen net wat hulle wou.
Hulle het die stede wat deur dik mure omring is, ingeneem en die vrugbare grond vir hulle gevat.
Hulle het huise vol van die mooiste goed vir hulleself gevat.
Die putte was klaar gegrawe;
daar was volop wingerde, olyfboorde en vrugtebome.
Die Israeliete het meer as genoeg kos gehad om te eet; hulle was later spekvet.
U het hulle oorlaai met u goedheid.
Maar die Israeliete was ongehoorsaam en opstandig teen U.
Hulle het hulle nie aan u opdragte gesteur nie.
Hulle het u boodskappers doodgemaak omdat hulle u volk gewaarsku het om U opreg te dien.
Hulle het skandelike dinge aangevang.
Daarom het U hulle aan hulle vyande oorgelewer, wat hulle baie swaar laat lewe het.
Toe dit gebeur, het hulle vinnig na U toe gehardloop en hulp gevra
en U het hulle gebede verhoor, U wat in die hemel bly.
Omdat U so baie vir hulle omgee, het U vir hulle leiers gestuur om hulle te help teen hulle vyande.
Maar die oomblik toe dit goed gaan, het hulle weer presies dieselfde goed aangevang.
Daarom het U weer hulle vyande toegelaat om oor hulle te regeer.
Tog, toe hulle terugkom en om verskoning vra, het U keer op keer uit die hemel weer tot hulle redding gekom. Dit het U gedoen omdat U vir hulle lief is.
U het hulle gewaarsku om te luister na wat U hulle leer,
maar hulle was te vol van hulleself.
Hulle het hulle nie aan u opdragte gesteur nie.
Hulle het gelag vir u Woord,
alhoewel dit lewe gee aan elkeen wat dit gehoorsaam.
Hulle was moedswillig en hardkoppig.
Hulle het geweier om na U te luister.
Vir baie jare lank was U geduldig met hulle.
U het u profete met u Gees geïnspireer om hulle te waarsku dat hulle op die verkeerde pad is,
maar hulle het hulle doof gehou.
Daarom het U hulle aan nasies oorgelewer wat U nie ken nie.
Maar omdat U so ongelooflik goed is, het U hulle nie heeltemal uitgeroei
of u rug vir hulle gedraai nie.
U het hulle nie in die steek gelaat nie,
want U is ’n God wat vol goedheid en ontferming is.
Ons God, hoe groot is U!
U is ongelooflik sterk; almal het groot respek vir U.
Omdat U vir ons omgee, hou U elke belofte van die ooreenkoms wat U gemaak het.
Moet tog nie by ons verbykyk in ons ellende nie.
Van die tyd van die Assiriese konings af tot vandag toe het ons almal,
ons konings, ons leiers,
ons priesters, ons profete,
ons voorouers, ja, die hele volk, al baie swaargekry.
U het reg opgetree om ons te straf,
U was reg; ons verkeerd.
Ons konings, ons leiers, ons priesters en ons voorouers
het nie gedoen wat U in u wet sê nie.
Hulle het hulle doof gehou vir u bevele en u waarskuwings.
Selfs toe hulle eie konings oor hulle regeer het
en U hulle oorlaai het met net die beste in ’n vrugbare land,
het hulle U nie gedien of opgehou met hulle sonde nie.
Vandag is ons slawe in die land wat U vir ons voorouers gegee het sodat hulle daaruit kon lewe.
Ten spyte van al die oorvloed in hierdie land is ons slawe!
Die oorvloed van hierdie land behoort vandag
aan die konings wat U oor ons laat regeer as gevolg van ons sonde.
Hulle maak met ons en ons vee net wat hulle wil.
Ons het groot probleme.
Daarom maak ons ’n plegtige belofte teenoor U wat ons op skrif wil stel. Ons leiers, die Leviete en die priesters het dit namens ons met hulle handtekeninge bevestig en toe verseël.