Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg.
Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig,
dit vul gewone mense met wysheid.
Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe.
Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet.
Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad.
Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie.
Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen,
sodat ek net kan doen wat U sê.
Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen.
Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie.
Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge.
U sê presies vir ons hoe ons moet leef.
Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie.
U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer!
Daarom het ek u Woord so lief.
Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie.
U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar.
Al kom ek vragte vol probleme teë,
nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink.
U voorskrifte is vir altyd waar en reg,
leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe.
Ek roep so hard as wat ek kan: “Here, verhoor my!”
Ek wil u voorskrifte in die Bybel doen.
Ek het voor U kom staan en uitgeroep: “Red my!” sodat ek u voorskrifte kan hou.
Nog voordat die son in die oggend opkom, pleit ek al dat U my moet help,
ek wag dat U my moet antwoord.
In die nag slaap ek nie, my oë is wawyd oop; dit is net op U gerig.
Ek dink die hele tyd aan alles wat U sê.
Hoor tog as ek so bid, want U is ’n baie goeie God.
Here, laat my weer voluit leef!
Mense wat vieslike dinge doen, kruip al nader en nader,
hulle loop al verder en verder van u wet af weg.
Here, U is altyd baie naby, boonop is alles wat U sê, die waarheid.
Ek weet al lankal dat dit wat U sê, vir altyd bly bestaan.
Kyk ’n slag hoe sleg dit met my gaan en help my,
want ek vergeet nie ’n enkele dag wat U sê nie.
Kies asseblief my kant en help my uit hierdie gemors uit;
laat ek weer die lewe geniet, soos U belowe het.
Goddelose mense staan g’n kans om ooit gered te word nie,
want hulle steur hulle nie aan wat U sê nie.
Gelukkig hou u goedheid nooit op nie, Here, dit hou net aan en aan.
Daarom pleit ek by U om nuwe lewe.
’n Hele klomp slegte mense is agter my bloed aan, maar gelukkig stap ek op u pad.
Mense wat nie doen wat U sê nie se leefstyl maak my siek;
dit is verskriklik dat hulle die rug vir U draai.
Kyk na my! Sien tog raak dat ek elke woord van U liefhet.
Here, hou asseblief aan om vir my goed te wees.
Hou my aan die lewe omdat U so ’n goeie God is.
Alles wat U sê, is die waarheid, elke woord daarvan!
Dit sal vir altyd en altyd die waarheid bly.
’n Klomp belangrike mense vervolg my, al is ek onskuldig,
maar dit vat nooit my respek vir u Woord weg nie.
My hart loop oor van opgewondenheid oor elke woord wat U sê,
dit is die grootste skat wat ek nog ooit in my lewe gevind het.
Ek haat leuens, maar u wet, dit het ek lief met alles binne-in my.
Ek kan U nie genoeg loof nie,
elke kans wat ek kry, gebruik ek om vir U te sê dat alles wat U doen, reg en goed is.
Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie.
Here, ek hou u hand styf vas; ek wag dat U my kom help, ek doen net wat U sê.
Alles wat U sê, word in my hart weggebêre,
ek doen dit alles; ek is lief vir elke voorskrif uit u mond!
Kyk net: ek gehoorsaam alles wat U sê en luister na u raad,
my lewe is soos ’n oop boek voor U.
Here, luister tog as ek smeek dat U my moet help,
leer my om te verstaan wat U in die Bybel van my vra.
Gee aandag aan my nood; moenie dit ignoreer nie!
Red my soos U belowe het.
Lof sal dan oor my lippe spoel, want U leer my hoe om te leef.
Ek sal heeltyd sing oor u Woord, want alles wat U sê, is reg en goed.
Hou my vas, want ek wil net doen wat U sê.
Here, ek het nie genoeg woorde om vir U te sê hoe ek na u hulp smag nie,
u wet bring soveel blydskap in my lewe.
Maak my van binne af nuut, dan sal ek u Naam heeltyd loof.
Maak my sterk om te doen wat U sê.
As ek soos ’n skaap is wat verdwaal het, kom haal my asseblief!
Ek sal u stem dadelik herken, want ek vergeet nooit een van u woorde nie.