Die Here het vir Sagaria gesê om weer met sy volk te praat. Hy het gesê: Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Jerusalem lê My baie na aan die hart. My liefde vir die plek is so groot dat Ek woedend word as iemand enigiets verkeerds teen die stad doen. Ek sal na Jerusalem toe terugkom en weer in die stad kom bly. Mense sal Jerusalem as die Stad van Waarheid ken. Die berg waarop die tempel van die Here staan, sal ’n spesiale plek wees om die Here op te aanbid. Verder het die Here ook gesê: Ou mense met baie kennis van die lewe, mans en vroue, sal ook weer in die strate van Jerusalem met hulle kieries loop. Daar sal ook baie seuns en meisies wees wat in die strate speel.” Die Here sê: “’n Groepie van Juda se mense het oorgebly nadat hulle ’n klompie jare terug na Babel toe weggevat is. Miskien is dit nou vir hierdie mense moeilik om te glo dat die dinge gaan gebeur wat Ek gesê het Ek gaan doen. Sê My, dink julle dit is vir My onmoontlik om hierdie dinge te doen net omdat hulle dink Ek kan nie? Ek is tog die Here wat sterker as alles en almal is! Luister ’n bietjie na wat die Here sê: Ek gaan my mense red uit die lande in die ooste en die weste. Ek sal hulle na Jerusalem toe terugbring sodat hulle weer daar kan bly. Soos vroeër sal hulle my volk wees en Ek hulle God. Ek sal lojaal aan hulle wees en regverdig.” Die Here sê ook: “Skep moed, spring aan die werk en bou die tempel klaar! Die beloftes wat julle nou hoor, is lank gelede alreeds deur die profete gemaak toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Toe hulle met die werk aan die tempel begin het, was daar nie geld om die mense te betaal nie. Daar was ook nie geld om diere vir die werk te huur nie. Dit was toe so onveilig in die land dat niemand dit kon waag om van die een plek na ’n ander een te gaan nie. Ek het gemaak dat mense mekaar se vyande was. Maar dinge het verander. Ek sal nie meer met die klompie mense wat oor is, maak soos Ek vroeër met hulle gemaak het nie. Dit sal van nou af goed met hulle gaan. Daar sal vrede wees. Die wingerde sal druiwe dra. Verder sal die mense goeie oeste van die lande af inbring. Die hemel sal sorg vir die dou op die aarde. Ek sal dit alles doen vir hierdie klompie mense van Juda wat oorgebly het. As mense van ander volke mekaar sleg wou sê, het hulle altyd Juda en Israel as voorbeelde gebruik. Hulle het iets gesê soos: ‘Mag die slegte goed wat Juda en Israel oorgekom het, ook met julle gebeur.’ Maar dit gaan nou end kry! Ek sal julle red. Van nou af sal hulle aan julle dink as mense met wie dit baie goed gaan. Moet daarom nie bang wees nie, maar wys dat julle moed het en pak die bouwerk van die tempel aan!”
Lees Sagaria 8
Deel
Vergelyk alle weergawes: Sagaria 8:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's