Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik 'n bydrae om te lewer: 'n psalm, 'n onderwysing, 'n openbaring, 'n ongewone taal of klank, 'n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop.
Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê. As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat.
Wat die profete betref, twee of drie kan aan die woord kom, en die ander moet beoordeel wat hulle sê. Maar as 'n ander een wat daar sit, 'n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly. Julle kan almal profeteer, maar een vir een, sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word. 'n Profeet het immers beheer oor sy gees. God is tog nie 'n God van wanorde nie, maar van orde en vrede.
Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die erediens te praat.
Het die woord van God miskien van julle af uitgegaan? Of het dit julle alleen bereik?
Iemand wat dink dat hy 'n profeet is of 'n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, 'n bevel van die Here is. Maar as iemand dit nie erken nie, sal God hom ook nie erken nie.
Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer en moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie. Alles moet egter gepas en ordelik geskied.