Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. Die vroue het gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!” Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen. Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.
Lees 1 SAMUEL 18
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 SAMUEL 18:6-16
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's