ESEGIËL 37:20-28

ESEGIËL 37:20-28 AFR83

“Die stukke hout waarop jy geskryf het, moet in jou hand wees en die mense moet dit sien. Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek sal die Israeliete tussen die nasies uit vat waarheen hulle moes gaan, en hulle van alle kante af bymekaarmaak en na hulle land toe bring. Ek sal van hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel, en hulle sal een koning hê. Hulle sal nooit weer twee volke wees nie, nooit weer in twee ryke verdeel word nie. “Hulle sal hulle nooit weer verontreinig met afgode en afskuwelike dade en sondes nie. Ek sal hulle bevry uit al hulle woonplekke waar hulle gesondig het en hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. My dienaar Dawid sal koning oor hulle wees; hulle almal sal net een herder hê, en hulle sal volgens my bepalings leef en my voorskrifte gehoorsaam en nakom. Hulle sal in die land woon wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het, waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders, en my dienaar Dawid sal hulle regeerder wees vir altyd. Ek sal met hulle 'n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring, 'n verbond wat altyd sal bestaan. Ek sal hulle baie laat word en my heiligdom tussen hulle oprig om altyd daar te wees. My woonplek sal by hulle wees; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle is, sal die ander nasies besef dat Ek, die Here, Israel vir My afgesonder het.”