JESAJA 40:12-28

JESAJA 40:12-28 AFR83

Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer, soos 'n stoffie op 'n skaal. As Hy die eilande op 'n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. Al die hout op die Libanon is nie genoeg vir vuur op die altaar nie en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie. Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie. Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet en deur 'n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie! Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek, oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon. Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige. Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie. Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 40:12-28