JOB 28:12-28

JOB 28:12-28 AFR83

Maar die wysheid, waar word dié gevind, waar is die woonplek van die insig? Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie. Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie,’ die see sê: ‘By mý is dit nie!’ Goud kan dit nie koop nie, sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie. Daarvoor kan nie betaal word met die goud van Ofir of met kosbare oniks en saffier nie; goud en glas kom nie daarby in waarde nie, vir voorwerpe van fyn goud kan 'n mens dit nie ruil nie. Koraal en kristal word nie eers gereken nie, wysheid is baie meer werd as pêrels. Topaas uit Kus kom nie daarby in waarde nie, selfs met suiwer goud kan jy nie daarvoor betaal nie. Die wysheid, waar kom dit vandaan? Waar is die woonplek van die insig? Dit is verborge vir al wat lewe, weggesteek selfs vir die voëls in die lug. Die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het maar net 'n gerug daaroor gehoor.’ Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid, want Hy sien die verste eindes van die aarde, Hy aanskou alles onder die hemel. Toe Hy die krag van die wind bepaal het en die waters uitgemeet het, toe Hy vir die reën reëls gemaak het en 'n pad vir die weerlig aangewys het, toe het Hy die wysheid gesien en daarvan vertel, toe het Hy dit vasgestel en deurvors. En Hy het vir die mens gesê: Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOB 28:12-28