DANIËL 10:11-14
DANIËL 10:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Die man het vir my gesê: “Daniël, God hou van jou. Hy het my na jou toe gestuur, en jy moet luister na wat ek vir jou sê. Staan op.” Toe die man dit vir my sê, het ek opgestaan, maar ek het nog gebewe. Hy het vir my gesê: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Jy wou graag verstaan wat jy gesien het, en jy was soos iemand wat rou. Jou God het daardie eerste dag gehoor wat jy wil bid en Hy het my na jou toe gestuur. Die engel van die Perse het my 21 dae lank gekeer, maar 'n ander engel, Migael, het gekom en my gehelp, en ek kon toe weggaan van die Persiese konings. Migael is een van die leiers van die engele. Ek het gekom om vir jou te sê wat met jou volk sal gebeur en om dit vir jou te wys.”
DANIËL 10:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.
DANIËL 10:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. Die engel van die Persiese Ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.”
DANIËL 10:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê hy vir my, ‘Daniël, baie geliefde man, kry insig in die woorde wat ek met jou praat en staan op jou plek, want ek is nou na jou gestuur.’ En terwyl hy hierdie woorde met my praat, het ek bewend opgestaan. Hy sê toe vir my, ‘Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde. Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een-en-twintig dae lank teengestaan. Maar kyk, Migael, een van die belangrikste vorste, het my te hulp gekom, en ek was oorbodig daar by die konings van Persië. Ek het toe gekom om jou insig te laat kry oor wat met jou volk sal gebeur aan die einde van die dae, want die visioen geld weer vir die toekoms.’
DANIËL 10:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het vir my gesê: Daniël, 'n baie geliefde man, verstaan die woorde wat ek met jou spreek, en staan regop, want nou is ek na jou gestuur. En toe hy hierdie woord met my gespreek het, het ek gestaan en bewe. Toe sê hy vir my: Moenie vrees nie, Daniël, want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om te verstaan en jou voor jou God te tugtig, is jou woorde gehoor, en ek het gekom vir jou woorde. Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een en twintig dae teëgestaan; maar kyk, Migael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ek het daar by die konings van Persië gebly. Nou het Ek gekom om jou te laat verstaan wat jou volk aan die einde van die dae sal gebeur, want nogtans is die gesig vir baie dae.
DANIËL 10:11-14 Die Boodskap (DB)
Hy sê toe vir my: “Daniël, die Here is vir jou baie lief. Staan regop en luister na wat ek vir jou gaan sê, want ek is spesiaal na jou toe gestuur.” Toe hy dit sê, het ek al bewend opgestaan. Hy sê toe vir my: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Van die eerste oomblik af dat jy begin bid het om hierdie dinge te probeer verstaan en in nederigheid voor God gestaan het, is jou gebede al verhoor. Ek is juis hier in antwoord op jou gebed. Die beskermengel van die Persiese Ryk het my 21 dae lank gekeer om na jou toe te kom. Toe het Migael, een van die belangrikste leiers van die engele, my kom help. Daarom kon ek hom daar by die Persiese beskermengel los. Ek het gekom om vir jou te kom verduidelik wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie is ’n visioen oor die toekoms.”
DANIËL 10:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het vir my gesê: “Daniël, man wat God baie liefhet, luister aandagtig na wat ek vir jou sê. Staan op jou voete! Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan. Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël. Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor. Ek het gekom in antwoord op jou gebed. Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan. Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel. Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse. Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur. Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”