DANIËL 10:5-19
DANIËL 10:5-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n man geklee in linne, en sy heupe is omgord met goud van Ufas. Sy liggaam was soos •chrisoliet en sy gesig het gelyk soos weerlig, terwyl sy oë soos fakkels van vuur was, en sy arms en voete soos gepoleerde brons geskitter het. Die geluid van sy woorde was soos die geluid van 'n menigte. Ek, Daniël, het alleen die verskyning gesien; die manne wat saam met my was, het nie die verskyning gesien nie. Groot vrees het hulle egter oorval, en hulle het gevlug om weg te kruip. Ek het alleen agtergebly en het hierdie groot verskyning gesien. Daar was geen krag in my oor nie, en my gelaatskleur het verander na doodsbleek. Ek kon nie my kragte herwin nie. Ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond. Kyk, 'n hand het my aangeraak en my geskud tot ek op my knieë en handpalms was. Toe sê hy vir my, ‘Daniël, baie geliefde man, kry insig in die woorde wat ek met jou praat en staan op jou plek, want ek is nou na jou gestuur.’ En terwyl hy hierdie woorde met my praat, het ek bewend opgestaan. Hy sê toe vir my, ‘Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde. Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een-en-twintig dae lank teengestaan. Maar kyk, Migael, een van die belangrikste vorste, het my te hulp gekom, en ek was oorbodig daar by die konings van Persië. Ek het toe gekom om jou insig te laat kry oor wat met jou volk sal gebeur aan die einde van die dae, want die visioen geld weer vir die toekoms.’ “Terwyl hy in dié trant met my praat, het ek my gesig na die grond gerig en stom geword. Kyk, toe het een met dieselfde voorkoms as mensekinders my lippe aangeraak. Daarna het ek my mond oopgemaak, gepraat en vir hom wat voor my staan, gesê, ‘My heer, as gevolg van die verskyning het 'n lamheid my oorweldig, en ek kon nie my kragte herwin nie. Hoe kon hierdie dienskneg van my heer dan met hierdie heer van my praat? En ek – van nou af bly daar geen krag oor in my nie; geen asem is meer oor in my nie.’ “Die een wat soos 'n mens gelyk het, het my weer aangeraak en my weer krag gegee. Hy het gesê, ‘Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk, ja, wees sterk!’ “Terwyl hy met my praat, het ek my krag herwin en gesê, ‘My heer kan maar praat, want u het my versterk.’
DANIËL 10:5-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het opgekyk en ’n man gesien met klere van fyn linne en ’n goue gordel om sy lyf. Sy lyf het soos edelstene gelyk. Sy gesig was soos weerligstrale, sy oë soos vlammende fakkels. Sy arms en sy voete was soos koper wat blink gevryf is. Die stem waarmee hy gepraat het, het geklink soos die geruis van ’n skare mense. Dit was net ek, Daniël, wat hierdie gesig gesien het. Die mans wat saam met my was, het dit glad nie gesien nie. Hulle het skielik baie bang geword en weggehardloop om te gaan wegkruip. Ek het toe alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk. Daar het nie ’n greintjie krag in my oorgebly nie. Ek het doodsbleek geword en daar het geen krag in my oorgebly nie. Ek het die man hoor praat. Toe ek hoor hy praat, het ek flou neergeval en met my gesig op die grond gelê. ’n Hand het my aangeraak en my op my hande en knieë gehelp. Ek het staan en bewe. Hy het vir my gesê: “Daniël, man wat God baie liefhet, luister aandagtig na wat ek vir jou sê. Staan op jou voete! Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan. Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël. Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor. Ek het gekom in antwoord op jou gebed. Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan. Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel. Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse. Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur. Die visioen het met daardie laaste dae te doen.” Terwyl hy hierdie dinge vir my gesê het, het ek afgekyk grond toe. Ek kon niks sê nie. Die een wat soos ’n mens lyk, het toe aan my lippe geraak. Ek het begin praat en vir die een wat voor my staan, gesê: “Meneer, die visioen het my ontstel. Ek is benoud. Ek is kragteloos. Hoe kan Meneer se kneg nog met Meneer praat? Ek het nie die krag om regop te bly nie. Ek kan nie asem kry nie.” Die een wat soos ’n mens lyk, het toe weer aan my geraak en my sterk gemaak. “Moenie bang wees nie,” sê hy weer vir my. “God is lief vir jou. Wees rustig. Wees sterk.” Terwyl hy met my gepraat het, het ek sterk geword. Ek het vir hom gesê: “Meneer kan maar nou met my praat. Ek is sterk genoeg.”
DANIËL 10:5-19 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gekyk en toe sien ek daar staan 'n man. Sy klere was van linne en sy belt was van goud. Sy lyf was soos mooi klip, sy gesig was soos weerlig en sy oë was soos vlamme vuur. Sy arms en bene was soos brons wat blink gevryf is. Wanneer hy gepraat het, dan was sy stem soos die stemme van baie mense wat saam praat. Net ek, Daniël, het die man gesien. Die manne wat by my was, het niks gesien nie, maar hulle het groot geskrik en hulle het weggekruip. Ek was alleen en ek het die man gesien. Ek was baie bang, my gesig was baie bleek en ek het baie swak geword. Ek het gehoor die man praat, en toe ek hom hoor, het ek met my gesig teen die grond gaan lê. Ek was bewusteloos. Maar 'n hand het my gevat en die hand het my opgetel. Ek het op my knieë en my hande gestaan. Ek het gebewe. Die man het vir my gesê: “Daniël, God hou van jou. Hy het my na jou toe gestuur, en jy moet luister na wat ek vir jou sê. Staan op.” Toe die man dit vir my sê, het ek opgestaan, maar ek het nog gebewe. Hy het vir my gesê: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Jy wou graag verstaan wat jy gesien het, en jy was soos iemand wat rou. Jou God het daardie eerste dag gehoor wat jy wil bid en Hy het my na jou toe gestuur. Die engel van die Perse het my 21 dae lank gekeer, maar 'n ander engel, Migael, het gekom en my gehelp, en ek kon toe weggaan van die Persiese konings. Migael is een van die leiers van die engele. Ek het gekom om vir jou te sê wat met jou volk sal gebeur en om dit vir jou te wys.” Die man het dit vir my gesê, maar ek het voor my op die grond gekyk. Ek kon niks sê nie. Hy het soos 'n mens gelyk en hy het aan my lippe geraak. Toe kon ek praat. Ek het vir die man voor my gesê: “Meneer, ek het groot geskrik toe ek jou sien. Ek is baie swak. Ek is soos 'n slaaf vir Meneer. Ek kan nie met jou praat nie. Ek is te swak, ek het nie asem nie.” Die man wat soos 'n mens gelyk het, het weer aan my geraak. Ek het toe sterk geword. Hy het vir my gesê: “Jy moenie bang wees nie. God hou van jou. Hy sal dit goed laat gaan met jou en Hy sal jou sterk maak.” Ek het sterk geword toe die man met my gepraat het. Ek het gesê: “Meneer, jy kan nou praat, want jy het my sterk gemaak.”
DANIËL 10:5-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek 'n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van 'n menigte. En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het 'n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ék alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie. En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval. En kyk, 'n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms. En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword. En kyk, een wat soos 'n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan, gesê: My heer, deur die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie. En hoe kan so 'n geringe kneg van my heer met so 'n heer van my spreek? Wat my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my oorgebly nie. Toe het die een wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk en gesê: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.
DANIËL 10:5-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning. Net ek, Daniël, het die visioen gesien. Die mense by my het dit nie gesien nie. Tog was hulle so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het en ek alleen agtergebly het. Toe ek hierdie indrukwekkende visioen sien, het ek magteloos en doodsbang geword en het ek geen krag meer gehad nie. Toe hoor ek die man praat, en terwyl ek hom nog hoor praat, het ek bewusteloos vooroor op die grond geval. Daarna het 'n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. Die engel van die Persiese Ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.” Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. Toe het iemand wat soos 'n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.” Toe het hy wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.”
DANIËL 10:5-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe slaan ek my oë op en kyk, en daar was 'n sekere man bekleed met linne, wie se heupe omgord was met fyn goud van Ufas. Ook was sy liggaam soos die bont, en sy gesig soos die voorkoms van weerlig, en sy oë soos vuurlampe, en sy arms en sy voete soos gekleurde koper, en die stem van sy woorde soos die stem van 'n menigte. En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, want die manne wat by my was, het die gesig nie gesien nie; maar 'n groot bewing het op hulle geval, sodat hulle gevlug het om hulle weg te kruip. Daarom het ek alleen agtergebly en hierdie groot gesig gesien, en daar het geen krag in my oorgebly nie, want my skoonheid het in my verander in verderwing, en ek het geen krag behou nie. Maar ek het die stem van sy woorde gehoor, en toe ek die stem van sy woorde hoor, was ek in 'n diepe slaap op my aangesig en my aangesig na die aarde. En kyk, 'n hand het my aangeraak, wat my op my knieë en op die handpalms gesit het. En hy het vir my gesê: Daniël, 'n baie geliefde man, verstaan die woorde wat ek met jou spreek, en staan regop, want nou is ek na jou gestuur. En toe hy hierdie woord met my gespreek het, het ek gestaan en bewe. Toe sê hy vir my: Moenie vrees nie, Daniël, want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om te verstaan en jou voor jou God te tugtig, is jou woorde gehoor, en ek het gekom vir jou woorde. Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een en twintig dae teëgestaan; maar kyk, Migael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ek het daar by die konings van Persië gebly. Nou het Ek gekom om jou te laat verstaan wat jou volk aan die einde van die dae sal gebeur, want nogtans is die gesig vir baie dae. En toe hy sulke woorde met my gespreek het, het ek my aangesig na die grond gerig, en ek het stom geword. En kyk, een soos die gelykenis van die mensekinders het my lippe aangeraak; toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat voor my gestaan het, gesê: O my heer, deur die gesig is my smarte op my gekeer, en Ek het geen krag behou nie. Want hoe kan die dienaar van hierdie my heer met hierdie my heer praat? want wat my aangaan, daar het dadelik geen krag in my oorgebly nie, en daar het geen asem in my oorgebly nie. Toe het daar weer iemand gekom en my aangeraak soos die voorkoms van 'n man, en hy het my versterk, en gesê: O hooggeliefde mens, moenie vrees nie; vrede vir jou, wees sterk, ja, wees sterk. En toe hy met my gespreek het, het ek sterk geword en gesê: Laat my heer spreek; want U het my versterk.
DANIËL 10:5-19 Die Boodskap (DB)
Toe ek opkyk, sien ek ’n man met linneklere aan en ’n belt van fyn goud om sy lyf daar staan. Sy lyf het soos ’n edelsteen geblink en sy gesig was so helder soos die lig van ’n weerligstraal. Sy oë het soos tonge vuur gevlam. Sy arms en bene het gelyk soos brons wat blink gevryf was. Toe hy gepraat het, het dit geklink of dit ’n hele skare mense was wat gelyk praat, so hard was sy stem. Net ek kon die visioen sien, maar nogtans het die mense wat by my was so bang geword dat hulle weggehardloop en gaan wegkruip het. Ek het stom van verbasing alleen daar bly staan en na die visioen gekyk. Dit was so indrukwekkend dat ek net magteloos kon staan en kyk. Ek was doodsbleek van die skrik en verbystering. Toe die man met my praat, het ek bewusteloos op die grond geval. Hy het my opgetel en alhoewel ek hande-viervoet gestaan het, het ek onophoudelik gebewe. Hy sê toe vir my: “Daniël, die Here is vir jou baie lief. Staan regop en luister na wat ek vir jou gaan sê, want ek is spesiaal na jou toe gestuur.” Toe hy dit sê, het ek al bewend opgestaan. Hy sê toe vir my: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Van die eerste oomblik af dat jy begin bid het om hierdie dinge te probeer verstaan en in nederigheid voor God gestaan het, is jou gebede al verhoor. Ek is juis hier in antwoord op jou gebed. Die beskermengel van die Persiese Ryk het my 21 dae lank gekeer om na jou toe te kom. Toe het Migael, een van die belangrikste leiers van die engele, my kom help. Daarom kon ek hom daar by die Persiese beskermengel los. Ek het gekom om vir jou te kom verduidelik wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie is ’n visioen oor die toekoms.” Toe hy dit vir my sê, het ek net sprakeloos na die grond bly staar. Die engel wat soos ’n mens gelyk het, het toe sy hand uitgesteek en aan my mond geraak. Daarna kon ek weer praat en ek het vir hom gesê: “Weet u, die visioen het my so ontstel dat ek nog steeds lam van die skok is. Watter reg het ek, wat maar net ’n doodgewone mens is, om met so ’n belangrike figuur soos u te praat? Ek het so geskrik dat ek skaars kan asemhaal.” Hierdie engel het toe weer ’n keer aan my geraak en ek kon voel hoe my kragte terugkom. Toe sê hy vir my: “Moenie bang wees nie, God het jou lief! Ontspan net, dit sal goed gaan met jou. Jy hoef vir niks bang te wees nie!” Dit het my beter laat voel en ek sê toe vir hom: “U kan nou maar praat, want ek voel sommer baie beter.”