HAGGAI 2:1-23
HAGGAI 2:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Op die 21ste dag van die sewende maand het die Here weer die profeet Haggai gestuur om vir hulle 'n boodskap te bring. Die Here het gesê: “Sê vir Serubbabel en vir Jesua en vir al die ander mense wat nog lewe: Wie van julle wat nog lewe, het voorheen my tempel gesien toe dit so mooi was? Hoe lyk hierdie tempel nou vir julle? Nie mooi nie! Maar Ek, die Here, sê: Julle moet sterk wees. Serubbabel en Jesua en al die mense van die land, julle moet sterk wees en werk, want Ek is by julle.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Toe julle weggegaan het uit Egipte, het Ek belowe dat Ek julle sal help. Ek het my belofte nie vergeet nie. Moenie bang wees nie, Ek is by julle.” Ja, die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal nog een maal die hemel en die aarde, die see en die land, skud. Ek sal dit gou doen. Dan sal al die volke hulle mooi en duur goed bring en hulle sal die tempel daarmee volmaak.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Al die silwer en al die goud is Myne,” sê die Here wat oor alles regeer. “Hierdie tempel sal mooier wees as die tempel wat voorheen hier was.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “In hierdie tempel sal dit goed gaan,” sê die Here wat oor alles regeer. Op die 24ste dag van die negende maand, in die tweede jaar nadat Darius koning geword het, het die Here met die profeet Haggai gepraat. Die Here wat oor alles regeer, het gesê: “Vra vir die priesters: Wanneer iemand gewyde vleis in sy klere dra en sy klere raak dan aan brood of aan gekookte kos of wyn of olie of enige ander kos, sal daardie kos dan ook gewy wees? Wat sê die wet?” Die priesters het geantwoord: “Nee, die kos sal nie gewy wees nie.” Toe vra Haggai: “Wanneer iemand aan 'n lyk raak en hy word onrein, en hy raak dan aan hierdie kos, sal die kos ook onrein word?” En die priesters het geantwoord: “Ja, die kos sal onrein word.” Toe sê Haggai: “Die Here sê: So is hierdie volk, so is hierdie mense voor My. En so is alles wat julle doen. Alles wat julle na die tempel bring om te offer, is onrein. Julle moet kyk wat nou met julle sal gebeur. Voordat julle begin het om hierdie tempel weer te bou, het julle swaargekry. “Wanneer iemand by 'n hoop koring gekom het en gedink het daar is 20 kruike vol koring, dan was daar net tien. Wanneer hy by 'n parskuip gekom het en gedink het daar is 50 kruike vol wyn, dan was daar net 20. Hoekom? Ek het julle gestraf, Ek het julle koring siek laat word. Ek het hael gestuur om julle koring en alles wat julle geplant het, stukkend te slaan. Maar julle het nie gevra dat Ek julle moet help nie,” sê die Here. “Vandag is die 24ste dag van die negende maand, en julle het nou die fondament van die Here se tempel klaar gebou. Julle moet kyk wat van nou af sal gebeur. Is daar nog saad in julle stoorkamers? Nee. Daar was niks vrugte aan julle wingerdstokke, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie. Maar van vandag af sal Ek julle seën.” Die Here het weer met Haggai gepraat op die 24ste dag van die maand en vir hom gesê: “Sê vir Serubbabel, die goewerneur van Juda: Ek sal die hemel en die aarde skud. Konings sal van hulle trone moet afklim. Ek sal hulle swak maak en Ek sal die oorlogkarre omgooi en die soldate doodmaak wat op hulle ry. Die perde en die manne wat op hulle ry, sal sterf. Die manne sal mekaar doodmaak. “Die Here wat oor alles regeer, sê: Daardie dag sal jy, my dienaar Serubbabel, vir My soos 'n seëlring wees, want Ek het jou gekies om koning te word.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.
HAGGAI 2:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OP die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die HERE deur die diens van die profeet Haggai gekom en gesê: Spreek tog met Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en met Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en met die oorblyfsel van die volk en sê: Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie? Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die HERE, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare, met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie! Want so sê die HERE van die leërskare: 'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare. Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare. Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die HERE van die leërskare. Op die vier-en-twintigste van die negende maand in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die HERE gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê: So sê die HERE van die leërskare: Vra tog aan die priesters inligting uit die wet en sê: As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee. Daarop sê Haggai: As iemand wat deur 'n lyk verontreinig is, aan al hierdie dinge sou raak, sal dit onrein wees? En die priesters het geantwoord en gesê: Dit sal onrein wees. Toe antwoord Haggai en sê: Só is in my oë hierdie volk en só hierdie nasie, spreek die HERE, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer — onrein is dit. Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen gelê het in die tempel van die HERE, in dié tyd het iemand gekom by 'n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig. Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael — al die werk van julle hande — nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die HERE. Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die HERE gelê het; merk op: Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën. Vir die tweede maal het die woord van die HERE tot Haggai gekom op die vier-en-twintigste van die maand en gesê: Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe. En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander. In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die HERE, en jou maak tot 'n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die HERE van die leërskare.
HAGGAI 2:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie? Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie! So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige. Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige. Op die vier en twintigste van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here tot die profeet Haggai gekom: So sê die Here die Almagtige: Vra tog by die priesters leiding oor hierdie saak: As iemand vleis wat aan die Here gewy is, in die sak van sy klere dra, en hy raak met die sak aan brood of groente of wyn of olie of enige ander soort kos, sal dié dinge dan gewy wees? Die priesters antwoord toe: “Nee!” Toe sê Haggai: As iemand wat onrein is deurdat hy aan 'n lyk geraak het, aan hierdie dinge sou raak, sou hulle dan onrein word? Die priesters het geantwoord: “Ja, dit sal onrein word!” Haggai sê toe: Só is hierdie volk, hierdie nasie in my teenwoordigheid, sê die Here, só is alles wat hulle doen: elke offer wat hulle na my tempel toe bring, is onrein! Let daarom op wat in die verlede en tot nou toe gebeur het: voordat julle begin het om die tempel van die Here te herbou, het julle by 'n hoop koring gekom en net die helfte van wat julle geskat het, daaruit gedors. Julle het na 'n parskuip toe gegaan om vyftig vate vol te skep, maar julle het net twintig gekry. Ek het julle oes, die vrug van julle handewerk, swaar getref met brandkoring, heuningdou en hael, en nogtans het niemand hom tot My bekeer nie, sê die Here. Maar nou, let op wat van vandag af en verder sal gebeur, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Let op! Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal Ek voorspoed gee! Op die vier en twintigste van die negende maand het die woord van die Here nog 'n keer tot Haggai gekom: Sê vir Serubbabel die goewerneur van Juda: Ek gaan die hemel en die aarde laat bewe. Ek gaan die trone van konings omgooi en die mag van die koninkryke van die nasies vernietig. Ek gaan strydwaens met bemanning en al omgooi. Perde met hulle ruiters sal omkom, die een sal die ander met die swaard doodmaak. Daardie dag sal Ek jou vat, sê die Here die Almagtige, en jou, my dienaar Serubbabel seun van Sealtiël, 'n seëlring maak, want Ek het jou uitgekies, sê die Here die Almagtige.
HAGGAI 2:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die HERE gekom by monde van die profeet Haggai: “Sê vir Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en vir Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en vir dié wat oorgebly het van die volk, ‘ Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die HERE in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie? Daarom, hou moed, Serubbabel,’ is die uitspraak van die HERE. ‘Hou moed Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester! Hou moed, volk van die land, is die uitspraak van die HERE. Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. Dit is die belofte wat Ek teenoor julle afgelê het toe julle uit Egipte getrek het: My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.’ ” “ Die HERE, Heerser oor alle magte het immers gesê, ‘Nog een keer, binnekort, sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal al die nasies laat bewe en hulle sal kom met al hulle skatte en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’ sê die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Aan My behoort die silwer en aan My behoort die goud,’ is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die HERE, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte.” Op die vier-en-twintigste dag van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die HERE gekom tot die profeet Haggai: “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Vra vir die priesters 'n beslissing hieroor: As iemand heilige vleis in die vou van sy kleed dra en hy raak met die vou van sy kleed aan brood of gekookte kos, of wyn of olyfolie, of enige kos, word dit dan heilig?’ ” Die priesters se antwoord was: “Nee.” Haggai vra toe: “As iemand wat •onrein is deur aanraking met 'n lyk aan enige van hierdie dinge raak, is dit dan onrein?” Die priesters het geantwoord: “Dit sal onrein wees.” Hierop sê Haggai toe: “Dit is hoe hierdie volk is, ja, dit is hoe hierdie nasie voor My is, is die uitspraak van die HERE, en ook al die werk van hulle hande: Alles wat hulle daar offer, is onrein.” “Daarom dan, neem voortaan ter harte hoe dit met julle gegaan het voordat klip op klip in die •tempel van die HERE gelê is: As iemand na 'n koringmied van twintig mate gegaan het, was daar maar net tien! As hy na die parskuip gegaan het om vyftig mate wyn uit die kuip te skep, was daar maar net twintig. Ek het julle getref met skimmel en witroes en hael, ja, al die werk van julle hande, maar julle wou nie na My terugkeer nie, is die uitspraak van die HERE. “ Neem ter harte hoe dit van vandag af gaan wees, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondament van die tempel van die HERE gelê is; ja, neem dit ter harte. Is daar nog saad in die stoorkamer? Die wingerd, die vyebome, granate en olyfbome het nie eers gedra nie! Van vandag af sal Ek julle seën.” Dit is die tweede woord van die HERE tot Haggai op die vier-en-twintigste dag van die maand: “Sê vir Serubbabel, die streekgoewerneur van Juda, ‘Ek gaan die hemel en die aarde laat bewe. Ek gaan die koninklike trone omverwerp en die nasies se magtige koninkryke verwoes. Ek gaan die strydwaens met hulle drywers omkeer; die perde sal neerval en die ruiters sal mekaar met die swaard ombring. “ ‘Op daardie dag,’ is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte, ‘sal Ek jou, my dienaar, Serubbabel, seun van Sealtiël, neem,’ is die uitspraak van die HERE, ‘en Ek sal jou soos 'n seëlring maak omdat Ek jou uitverkies het.’ Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte.”
HAGGAI 2:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die sewende maand, op die een en twintigste dag van die maand, het die woord van die HERE deur die profeet Haggai gekom en gesê: Spreek nou met Serubbabel, die seun van Sealtiël, die goewerneur van Juda, en met Josua, die seun van Josédek, die hoëpriester, en met die res van die volk, en sê: Wie het onder julle oorgebly wat hierdie huis in haar eerste heerlikheid gesien het? en hoe sien jy dit nou? is dit nie in jou oë in vergelyking daarmee as niks nie? Maar wees nou sterk, Serubbabel, spreek die HERE; en wees sterk, o Josua, seun van Josédek, die hoëpriester; en wees sterk, alle volke van die land, spreek die HERE, en werk; want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare. Volgens die woord wat Ek met julle gesluit het toe julle uit Egipte uitgetrek het, so bly my gees in julle midde; wees nie bevrees nie. Want so sê die HERE van die leërskare: Nog een maal, dit is 'n klein tydjie, en Ek sal die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe; En Ek sal al die nasies laat skud, en die begeerte van al die nasies sal kom; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul, spreek die HERE van die leërskare. Die silwer is myne en die goud is myne, spreek die HERE van die leërskare. Die heerlikheid van hierdie laaste huis sal groter wees as van die vorige, spreek die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die HERE van die leërskare. Op die vier en twintigste dag van die negende maand, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die HERE deur die profeet Haggai gekom en gesê: So sê die HERE van die leërskare: Vra nou die priesters oor die wet en sê: As iemand heilig vleis in die slip van sy kleed dra en met sy slip aan brood of drank of wyn of olie of enige vleis raak, moet dit heilig wees? En die priesters antwoord en sê: Nee. Toe sê Haggai: As iemand wat deur 'n dooie liggaam onrein is, aan een van hierdie dinge raak, sal dit onrein wees? En die priesters antwoord en sê: Dit sal onrein wees. Toe antwoord Haggai en sê: So is dit met hierdie volk en so is hierdie nasie voor my aangesig, spreek die HERE; en so is elke werk van hulle hande; en wat hulle daar offer, is onrein. En nou, let tog op van vandag af en verder, van voordat 'n klip op 'n klip gelê is in die tempel van die HERE. Van daardie dae af, toe 'n mens by 'n hoop van twintig mate gekom het, was daar maar tien; toe 'n mens by die persvet kom om vyftig houers uit die pers te haal, was daar maar twintig. Ek het jou geslaan met blaaskorrels en met heuningdou en met hael in al die arbeid van jou hande; tog het julle julle nie tot My gewend nie, spreek die HERE. Let nou op van vandag af en verder, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, ja, van die dag af dat die fondament van die tempel van die HERE gelê is, let daarop. Is die saad nog in die skuur? ja, die wingerdstok en die vyeboom en die granaat en die olyfboom het nog nie voortgebring nie; van vandag af sal Ek jou seën. En die woord van die HERE het weer tot Haggai gekom op die vier en twintigste dag van die maand en gesê: Spreek met Serubbabel, goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat skud; En Ek sal die troon van die koninkryke omverwerp en die sterkte van die koninkryke van die nasies vernietig; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omkeer; en die perde en hulle ruiters sal afkom, elkeen deur die swaard van sy broer. In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbabel, my kneg, die seun van Sealtiël, spreek die HERE, en Ek sal jou maak as 'n seëlring, want Ek het jou uitverkies, spreek die HERE van die leërskare.
HAGGAI 2:1-23 Die Boodskap (DB)
Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die Here weer vir Haggai ’n boodskap vir die volk gegee. Hy het gesê: “Vra tog vir Serubbabel, Jesua en die mense wat weer in Juda kom bly het, die volgende vraag: Hoeveel is daar van julle wat die eerste tempel gesien het toe dit nog ’n pragtige gebou was? Hoe lyk die gebou nou vir julle? Totaal en al na niks!” Maar nou sê die Here vir Serubbabel dat hy en Jesua en die hele volk moed moet skep en aan die tempel moet begin werk. Die Here wat alle mag tot sy beskikking het, beloof dat hulle op sy hulp kan staatmaak. Hy sê: “Toe julle uit Egipte gevlug het, het Ek belowe dat my Gees altyd saam met julle sal wees. Daarom moet julle nie nou bang wees nie!” Die Here sê: “As die hemel, die aarde, die see en die droë grond weer op ’n keer skud en bewe, sal julle weet dat Ek by julle is. Dit sal julle daaraan herinner. Ek sal al die nasies se regerings laat ondergaan. So sal hulle kosbare skatte in die tempel beland. Ek sal hierdie huis van My ’n plek maak wat mense sal bewonder. Hulle sal aanvoel dat Ek daar is in my grootheid. Maar daar is nog iets wat julle moet weet: dit is dat al die silwer en die goud op aarde in elk geval Myne is. Mense sal in die toekoms hierdie tempel wat nuut gebou is, nog meer bewonder as die oorspronklike een. In hierdie land waar my huis staan, sal my volk vrede en voorspoed geniet. Ek sal daarvoor sorg!” Op 18 Desember 520 v.C., weer in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here nog ’n opdrag vir Haggai gegee. Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee. Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?” Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.” Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?” Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.” Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.” “Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie. Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry. Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie. “‘Vandag, die agtiende Desember, is die dag waarop die fondasie van die tempel gelê is. Dit is ’n keerpunt. Van hier af aan gaan dinge vir julle verander, daarop kan julle reken. Dit is so, daar is nie meer saad in julle skure oor nie. Daar is ook nie vrugte aan julle wingerde, vyebome, granaatbome en olyfbome nie. Maar Ek beloof julle, van nou af sal Ek sorg dat dit met julle goed gaan,’ sê die Here.” Op die agtiende Desember het die Here nog ’n boodskap vir Haggai gegee. Hy moes vir Serubbabel sê dat die Here die hemel en die aarde deur ’n aardbewing gaan skud. Verder gaan Hy ook koninkryke laat ondergaan en hulle mag van hulle af wegneem. Niks sal van volke se wapentuig en soldate oorbly nie en hulle perderuiters sal mekaar afmaai. Die Here sê wanneer al hierdie dinge gaan gebeur, gaan Hy Serubbabel gebruik. Hy het hom uitgekies om ’n leier te wees en daarom gee Hy aan hom gesag soos wat ’n koning het, want die Here wie se mag sonder perke is, het gesê dit is wat Hy gaan doen.
HAGGAI 2:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die HERE weer vir die profeet Haggai ’n boodskap gegee. “Sê vir Serubbabel, die seun van Sealtiël, goewerneur van Juda, en Jesua, die seun van Josadak, die hoëpriester, asook vir al die HERE se mense wat in die land oorgebly het, die volgende: Is daar nog enigiemand wat kan onthou hoe hierdie huis, die tempel, vroeër gelyk het? Hoe vergelyk die tempel nou met daardie een van vroeër? Daar is geen vergelyking nie, nie waar nie! Maar skep moed, Serubbabel, skep moed, Jesua, seun van Josadak, die hoëpriester, sê die HERE. Ook al die mense wat nog in die land oor is, moet moed skep, sê die HERE. Skep moed en doen die werk, want Ek is by julle, sê die HERE, die Almagtige. My Gees sal by julle bly soos Ek julle belowe het toe julle uit Egipte getrek het. Julle moet glad nie bang wees nie.” Dit is wat die oppermagtige HERE sê: “Binnekort gaan Ek die hemel en die aarde weer skud. Ek gaan die oseane en die droë grond skud. Al die volke gaan Ek ook skud. Al hierdie nasies se skatte sal na hierdie tempel toe gebring word. Ek sal hierdie plek met heerlikheid vul, sê die HERE, die Almagtige. Die silwer en die goud behoort aan My, sê die HERE, die Almagtige. Die toekomstige roem van hierdie tempel sal baie groter wees as wat dit in die verlede was, sê die HERE, die Almagtige. Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig. Ek, die HERE, die Almagtige, bevestig dit!” Op 18 Desember van die tweede jaar wat Darius koning was, het die HERE die volgende boodskap deur die profeet Haggai gestuur: “Die HERE, die Almagtige, sê: Vra vir die priesters die volgende vraag oor die gebooie: Sê nou een van julle dra ’n heilige offer in ’n sak van sy klere. En sê nou hy raak aan ’n stuk brood, gekookte kos, wyn, olie of enige ander vorm van kos, sal dit dan gewy wees?” Die priesters het geantwoord: “Nee.” Haggai vra toe: “Sê nou iemand het onrein geword omdat so ’n persoon aan ’n lyk geraak het. As hy dan raak aan al die dinge wat reeds genoem is, is die goed dan ook onrein?” Die priesters het geantwoord: “Ja.” Toe sê Haggai: “Dit geld ook vir hierdie mense en hierdie volk, sê die HERE. Net mooi alles wat hulle doen en wat hulle offer, is onrein. Hou dit voortaan in gedagte. Dink ’n bietjie hoe julle omstandighede was voordat julle die fondament van die HERE se tempel begin lê het. Toe julle gehoop het vir ten minste twintig mate koring, het julle net tien geoes. En toe julle verwag het om darem 50 vate wyn uit die pers te kry, het dit net twintig opgelewer. Ek het brandkoring, heuningdou en hael gestuur om julle handewerk te vernietig. Tog, ten spyte daarvan, het julle geweier om na My toe terug te kom, sê die HERE. “Let baie mooi op wat van vandag af, 18 Desember, die dag waarop die fondamente van die tempel gelê is, sal gebeur: Ek maak nou aan julle ’n belofte terwyl die saad nog in die skuur is en die wingerd, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom nog nie hulle vrug opgelewer het nie. Van vandag af sal Ek julle voorspoedig maak.” Die HERE het op 18 Desember ’n tweede boodskap vir Haggai gegee: “Sê vir Serubbabel, die goewerneur van Juda, dat Ek op die punt staan om die hemel en die aarde te skud. Ek gaan konings se ryke omverwerp. Ek gaan die mag van koninkryke vernietig. Ek gaan strydwaens en hulle bemanning omdop. Die perde sal neerslaan en die ruiters sal mekaar doodmaak. “Die dag wanneer dit gebeur, sê die HERE, die Almagtige, sal Ek jou vereer, Serubbabel, seun van Sealtiël, my dienskneg. Ek sal jou beskou soos ’n seëlring aan my vinger, sê die HERE. Ek sal dit doen omdat Ek jou gekies het. Ek, die HERE, die Almagtige, sê dit!”