JOSUA 6:1-5
JOSUA 6:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die stad Jerigo was toe. Die poorte was gesluit sodat die Israeliete nie kon inkom nie. Niemand het uit die stad gegaan nie en niemand het ingekom nie. Die Here het vir Josua gesê: “Luister na My, Ek gee Jerigo vir jou, en ook sy koning en sy soldate, julle sal hulle oorwin. Julle moet om die stad loop, almal wat kan oorlog maak. Julle moet ses dae lank elke dag een maal om die stad loop. Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring dra voor die kis. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters die ramshorings blaas. Wanneer die priesters die ramshorings lank aanmekaar blaas, en julle hoor dit, dan moet al die manne hard skree om die oorlog te begin. Die muur van die stad sal dan omval, en die manne moet opklim, elkeen moet reguit vorentoe gaan.”
JOSUA 6:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR Jérigo het sy poorte gesluit en was gesluit vanweë die kinders van Israel; niemand het uit- of ingegaan nie. Toe het die HERE vir Josua gesê: Kyk, Ek gee Jérigo met sy koning en dapper helde in jou hand. Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy doen ses dae lank. En sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra; maar op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas; en as hulle lang geluide op die ramshoring blaas, as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk 'n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval; en die volk moet inklim, elkeen reg voor hom uit.
JOSUA 6:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie. Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee. Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen. Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring voor die ark uit dra. “Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas, en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.”
JOSUA 6:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jerigo se poorte was egter dig gesluit vanweë die Israeliete; niemand het daar uitgegaan of ingegaan nie. Die HERE sê toe vir Josua: “Kyk, Ek gee Jerigo, sy koning en sy dapper krygers in jou hand. Julle moet om die stad trek, al die krygsmanne. Jy moet een keer om die stad gaan. Ses dae lank moet jy só maak: Sewe priesters moet sewe •ramshorings voor die ark dra. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek, terwyl die priesters op die horings blaas. En wanneer daar lank op die horing van die ram geblaas word, moet al die manskappe, sodra julle die geluid van die ramshorings hoor, 'n baie harde oorlogskreet aanhef. Die stadsmuur sal dan ineenstort, en die manskappe moet bo-oor klim, elke man reg voor hom uit.”
JOSUA 6:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jérigo was streng toegesluit ter wille van die kinders van Israel; niemand het uit- en niemand ingekom nie. Toe sê die HERE vir Josua: Kyk, Ek gee Jérigo en sy koning en die dapper helde in jou hand. En julle moet die stad omsingel, al julle krygsmanne, en een maal om die stad gaan. So moet jy ses dae doen. En sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra; en op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek, en die priesters moet op die ramshorings blaas. En as hulle lank met die ramshoring blaas, en as julle die geluid van die basuin hoor, sal die hele volk met 'n groot geroep skreeu; en die muur van die stad sal plat val, en die volk sal opklim, elkeen reg voor hom uit.
JOSUA 6:1-5 Die Boodskap (DB)
Jerigo se stadsdeure is deeglik gesluit. Daar was nêrens plek om in te kom nie, so bang was die mense vir die Israeliete. Niemand is toegelaat om in of uit te gaan nie. Maar die Here het vir Josua gesê: “Ek gee Jerigo, met sy koning en al sy soldate, in jou mag oor. Jy en al jou soldate moet elke dag, vir ses dae, reg om die stad loop. Voor die verbondsark, wat julle elke dag saam met julle moet dra, moet sewe priesters loop, elkeen met ’n trompet. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters op die trompette blaas. Sodra julle die priesters op die trompette hoor blaas, moet almal die aanvalskreet hard uitskree. Dan sal die mure van die stad inmekaarval sodat julle maklik in die stad kan ingaan om dit te oorrompel.”
JOSUA 6:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jerigo se poorte was dig gesluit omdat hulle bang was vir die Israeliete. Niemand het dit gewaag om in of uit te gaan nie. Die HERE het vir Josua gesê: “Ek gee jou beheer oor Jerigo, sy koning en sy soldate. Al die soldate moet een keer rondom die stad marsjeer. Doen dit vir die volgende ses dae. Sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring dra, moet voor die ark loop. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad marsjeer. Die priesters moet dan hard op die ramshorings blaas. Sodra julle hoor dat die priesters ’n uitgerekte sein op die ramshorings gee, moet almal ’n harde kreet gee. Die stad se muur sal dan inmekaarstort. Die manskappe kan dan daaroor klim om in die stad in te gaan.”