Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

LEVITIKUS 27:30-33 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

LEVITIKUS 27:30-33 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy. As iemand daarvan wil terugkoop, moet hy die loskoopwaarde daarvan plus twintig persent betaal. “Een tiende van die beeste en kleinvee behoort aan die Here. Die diere moet getel word, en al om die tiende dier wat verbykom, moet vir die Here afgekeer word. Daar mag nie goeies of slegtes uitgesoek word nie, en 'n dier wat afgekeer is, mag nie omgeruil word nie. As iemand so 'n dier probeer omruil, word albei diere die Here se eiendom. Daar mag nie teruggekoop word nie.”

LEVITIKUS 27:30-33 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE. Maar as iemand van sy tiende iets wil los, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg. Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee — alles wat onder die herderstaf deurgaan — die tiende moet aan die HERE heilig wees. Hulle mag nie ondersoek of dit goed of sleg is nie, en dit nie omruil nie; maar as hulle dit tog omruil, moet dit en die geruilde heilig wees; dit mag nie gelos word nie.

LEVITIKUS 27:30-33 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“’n Tiende van die opbrengs van die land, of dit graan of vrugte is, behoort aan die HERE en moet vir Hom as heilig afgesonder word. As jy die HERE se tiende van die graan of vrugte wil loskoop, moet jy die waarde daarvan betaal, plus twintig persent. Elke tiende dier van jou beeste en skape behoort aan die HERE. Daar mag nie vir die tiende dier onderskeid gemaak word tussen goeie of slegte diere nie. Hulle mag ook nie uitgeruil word nie. As hulle wel omgeruil word, sal albei diere as die HERE se eiendom beskou word en kan hulle nie losgekoop word nie.”

LEVITIKUS 27:30-33 DB (Die Boodskap)

“Een tiende van alles wat die land oplewer, van al die graan en van al die vrugte, behoort uitsluitlik aan die Here en aan Hom alleen. As iemand van die tiende wat hy moet afstaan, iets wil terugkoop, moet hy ’n vyfde by die waarde daarvan byvoeg. ’n Tiende van julle beeste en julle kleinvee behoort buitendien aan die Here. Om te bepaal watter aan die Here afgestaan moet word, moet julle so maak: laat die diere by jou verbykom en soos hulle verbykom, moet elke tiende een uitgekeer word en aan die Here afgestaan word. Daar moet nie onderskeid gemaak word tussen goeie en slegte diere wanneer hulle uitgekeer word nie. ’n Dier kan ook nie sommer vir ’n swakker een omgeruil word nie. As iemand tog sal waag om dit te doen, moet hy die dier wat hy eerste uitgekeer het, sowel as die dier waarmee hy dit wou ruil, aan die Here afstaan.”

LEVITIKUS 27:30-33 ABA (Bybel vir almal)

“Al die tiendes van koring of gars of vrugte behoort aan die Here, dit is aan die Here gewy. Wanneer iemand van die tiendes wil loskoop, dan moet hy een vyfde meer betaal. Al die tiendes van beeste of skape of bokke is aan die Here gewy. Julle moet elke tiende dier vang, dit behoort aan die Here. Julle mag nie kyk of die dier goed of sleg is nie en julle mag dit nie omruil vir 'n ander dier nie. As iemand dit doen, dan is altwee diere aan die Here gewy, niemand mag dit loskoop nie.”

LEVITIKUS 27:30-33 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ ‘ Enige tiende wat die grond lewer, uit die saad van die grond of uit die vrugte van bome, behoort aan die HERE; dit is 'n heilige gawe aan die HERE. As iemand wel van sy tiende wil loskoop, moet hy 'n vyfde daarby voeg. En wat al die tiendes van beeste en kleinvee betref, elke tiende een wat onder die herderstaf deurgaan, is 'n heilige gawe aan die HERE. Die eienaar mag nie tussen goeies vir 'n slegte soek nie en hy mag nie diere omruil nie. As hy dit wel omruil, is daardie dier reeds heilig en sal die geruilde een ook heilig wees. Dit mag nie losgekoop word nie.’ ”

LEVITIKUS 27:30-33 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En al die tiendes van die land, van die saad van die land of van die vrugte van die boom, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE. En as iemand enigsins iets van sy tiendes wil los, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg. En wat die tiendes van beeste of kleinvee betref, van alles wat onder die staf deurgaan, die tiendes moet heilig wees aan die HERE. Hy sal nie ondersoek of dit goed of sleg is nie, en hy sal dit nie verander nie; dit sal nie losgekoop word nie.