NEHEMIA 2:1-20

NEHEMIA 2:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie, maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?” Ek was baie bang, maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?” Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het 'n skietgebed opgestuur na die God van die hemel en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?” Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom 'n tyd aangedui en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom. Ek het ook 'n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.” My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan. Ek het by die goewerneurs in Wes-Eufraat gekom en die briewe van die koning aan hulle oorhandig. Die koning het offisiere en ruiters met my saamgestuur. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as 'n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen. Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was, is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie. Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was. Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie, en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe. Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie. Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.” Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. Maar toe Sanballat die Goroniet, Tobija die Ammonitiese amptenaar en Gesem die Arabier hoor wat ons doen, het hulle ons uitgelag en smalend gevra: “Wat vir 'n ding is dit waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?” Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou. Julle het nóg aandeel nóg reg in Jerusalem, en geen historiese band met hom nie.”

NEHEMIA 2:1-20 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag, vier maande later, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, was hy besig om te eet en ek het wyn aan hom bedien. Hy het my nog nooit voorheen bedruk gesien nie. Daarom het hy vir my gevra: “Wat is fout? Ek kan sien jy is nie siek nie! Maar dan moet jy baie hartseer wees oor iets, of hoe?” Ek was uit die veld geslaan dat die koning dit raakgesien het en sê toe vir hom: “Lank lewe die koning! Ek kan nie anders as om hartseer te wees nie. Die stad waar my voorouers begrawe is, is een groot puinhoop. Al die mure rondom die stad lê plat en die stad se hekke is verbrand.” “Hoe kan ek jou help?” wou die koning weet. Op daardie oomblik het ek ’n vinnige skietgebed opgestuur na die God van die hemel toe. Toe sê ek vir die koning: “As U Majesteit my toelaat om ’n guns te vra: laat my asseblief dan toe om na die landgebied van Juda terug te gaan sodat ek die stad waarin my voorvaders begrawe is, kan gaan herbou.” Die koningin het langs die koning aan tafel gesit. Hy vra toe vir my: “Hoe lank sal dit jou vat en wanneer sal jy terug wees?” Nadat ek hom geantwoord het, het hy vir my toestemming gegee om te gaan. Ek sê toe vir hom: “Ek sal bly wees as U Majesteit vir my briewe gee om vir die goewerneurs van die provinsies wes van die Eufraatrivier te verduidelik dat ek met u goedkeuring terugkeer. Dan kan ek sonder probleme deur hulle gebied na Juda toe reis. Ek het ook ’n brief nodig aan Asaf, die voorman van die staatsbos. Hy moet my van hout voorsien om balke te maak vir die hekke van die fort wat naby die tempel is en ook vir die muur rondom die stad en vir die huis waarin ek gaan bly.” Die koning het toe al hierdie dinge vir my gedoen omdat God in sy goedheid sy hand oor my gehou het. Die koning het ’n klompie van sy offisiere en ruiters saam met my gestuur om my te beskerm. Toe ek by die provinsies wes van die Eufraatrivier aankom, het ek die koning se briewe vir die goewerneurs gegee. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was hulle baie kwaad dat iemand op pad was om die Israeliete te gaan help. Drie dae na my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar van my vertrouelinge een nag stil-stil daar weggesluip. Ek het nog nie vir almal vertel watter planne God in my kop gesit het oor Jerusalem nie. Behalwe die donkie waarop ek gery het, het ons geen ander diere by ons gehad nie. Onder die dekmantel van die nag is ek deur die Valleihek by die stad uit, verby by die Jakkalsfontein tot by die Vullishek. So ver as wat ek gegaan het, het ek inspeksie gedoen van die mure van Jerusalem en ook van die hekke wat afgebrand het. Toe ek by die Fonteinhek en die Koningsdam kom, kon my donkie nie verder gaan nie, so baie puin en rommel het daar gelê. Ek is toe met die Kedronvallei op al langs die muur om die skade te bekyk voordat ek weer deur die Valleihek die stad in is. Niemand het geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie; nie die amptenare of selfs die Jode, die priesters, die vooraanstaande inwoners, die beamptes of die ander wat die werk sou moes doen nie. Ek het tot hiertoe nog al my planne vir myself gehou. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in watter haglike posisie ons is solank Jerusalem se mure vernietig is en die hekke van die stad afgebrand is. Kom ons herbou Jerusalem se mure. Dan kan ons weer trots wees op ons stad!” Ek het hulle vertel dat hierdie sending God se goedkeuring wegdra en hoe Hy my gehelp het, en ook wat die koning gesê het. Hulle reaksie was: “Uitstekend! Kom ons begin dadelik bou!” Hulle het dadelik begin gereedmaak om die werk te doen. Toe Sanballat, Tobija en Gesem hoor wat ons beplan, het hulle ons uitgelag en spottend gevra: “Wat dink julle doen julle? Hoekom waag julle dit om in opstand te kom teen die koning?” My antwoord aan hulle was: “Die God van die hemel sal ons help om suksesvol te wees. Ons is sy dienaars en ons sal die bouwerk doen. Maar julle het geen plek of reg hier nie. Julle moet ook nie dink dat julle in Jerusalem onthou sal word nie.”

NEHEMIA 2:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Vier maande later, nog in die twintigste jaar van koning Artasasta, was ek besig om wyn vir die koning te skink. Nooit tevore was ek so swaarmoedig in sy teenwoordigheid nie. Die koning vra my toe: “Hoekom lyk jy so hartseer? Jy is mos nie siek nie. Jy lyk diep bekommerd.” Toe het groot vrees my beetgepak, maar ek het geantwoord: “Mag die koning lank lewe! Ek het rede om hartseer te wees. Die stad waar my voorouers begrawe lê, is verwoes. ’n Vuur het ook die poorte afgebrand.” Toe vra die koning: “Hoe kan ek jou help?” Ek bid toe tot die God van die hemel, en antwoord die koning: “As dit reg is met u, en u is tevrede met my as u dienskneg, stuur my dan na Juda toe. Ek sal dan kan gaan na die stad waar my voorouers begrawe lê, en dit herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, vra toe: “Hoe lank sal jy weg wees? Wanneer sal jy terugkom?” Nadat ek vir hom ’n aanduiding van die tyd gegee het, het die koning ingestem om my te stuur. Ek het ook vir die koning gesê: “As u dit goedvind, gee vir my briewe saam vir die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier. Beveel hulle om my veilig deur hulle gebiede te laat trek op pad na Juda toe. Gee my ook asseblief ’n brief vir Asaf, die toesighouer van die staatsbos. Beveel hom om hout aan my te voorsien. Ek het dit nodig vir die balke van die deure van die vesting wat by die tempel is, vir die stadsmure en die huis waarin ek sal woon.” Die koning het hierdie versoeke toegestaan, want God was my goedgesind. Met my aankoms by die provinsie wes van die Eufraatrivier het ek die briewe van die koning aan die goewerneurs oorhandig. Vir my beskerming het die koning ook offisiere en ruiters saamgestuur. Maar toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar van my aankoms te hore kom, was hulle baie kwaad dat iemand van plan was om die Israeliete te help. Drie dae ná my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar ander mense in die nag uitgesluip. Ek het toe nog vir niemand vertel van die planne wat God oor Jerusalem in my wakker gemaak het nie. Ons het geen pakdiere saam met ons gevat nie, behalwe die donkie waarop ek gery het. Dié nag het ek by die Valleipoort uitgegaan, verby die Jakkalsfontein tot by die Mispoort. Ek het die beskadigde mure van Jerusalem en die afgebrande hekke gaan ondersoek. Daarna het ek na die Fonteinhek en die Koningsdam gery, maar my donkie kon nie deur die bourommel loop nie. Ek het toe in plaas daarvan in die Kidronvallei op beweeg. Ek het die muur ondersoek en daarna teruggedraai en weer deur die Valleipoort die stad binnegegaan. Die amptenare van die stad het nie geweet dat ek uitgegaan het of waarmee ek besig was nie. Ek het nog nie die Jode oor my planne ingelig nie. Ek het ook nog nie met die godsdienstige of die politieke leiers daaroor gepraat nie, ook nie met die amptenare of die mense wat die werk sou doen nie. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Jerusalem is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.” Toe het ek hulle begin vertel hoe goed God vir my voorsien het en van my gesprek met die koning. Hulle het dadelik reageer en gesê: “Dit is reg so. Kom ons bou die muur weer op!” Hulle het toe met die goeie werk begin. Maar toe Sanballat, Tobija die Ammonitiese amptenaar en die Arabier Gesem van ons planne hoor, het hulle ons minagtend gekoggel en gevra: “Wat dink julle doen julle om so teen die koning in opstand te kom?” Ek het hulle geantwoord: “Ons sal met die hulp van die God van die hemel suksesvol wees. Ons is sy diensknegte, ons sal die mure begin herstel. Julle het geen aandeel aan of historiese aanspraak op Jerusalem nie.”

NEHEMIA 2:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Die beker wyn was voor die koning, en ek het dit opgetel en vir hom gegee. Dit was in die maand Nisan, in die twintigste jaar nadat Artasasta koning geword het. Ek het nooit voorheen vir die koning gewys dat ek sleg voel nie. Maar daardie dag het die koning vir my gesê: “Ek kan sien jy voel sleg. Is jy siek? Of is jy hartseer?” Ek was baie bang, maar ek het vir die koning gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek ís hartseer, ek kan nie anders voel nie, want vyande het die stad verwoes waar my voorvaders se grafte is. Hulle het die poorte verbrand.” Die koning het vir my gesê: “Wil jy vir my iets vra?” Ek het gebid tot die God van die hemel en ek het vir die koning gesê: “As dit vir die koning goed is en as die koning goed wil wees vir my, jou amptenaar, dan moet jy my stuur na die stad waar die grafte van my voorvaders is, sodat ek die stad weer kan bou.” Toe vra die koning vir my: “Hoe lank sal jy loop om daar te kom? En wanneer sal jy terugkom?” Die koningin het langs die koning gesit. Die koning het besluit om my te stuur. Ek het vir hom gesê hoe lank ek weg sal wees en ek het vir hom gevra: “As die koning dink dit is goed, dan moet jy vir my 'n brief gee om vir die goewerneurs in die provinsie Wes-Eufraat te gee, sodat hulle my sal laat verbygaan om in die provinsie Juda te kom. Ek het hout nodig vir die balke van die poorte en vir die gebou by die tempel wat sterk mure moet hê, en vir die huis waar ek sal moet woon. Jy moet ook vir my 'n brief gee om vir Asaf te gee sodat hy vir my hout kan gee. Asaf is die amptenaar wat die houtbosse van die koning oppas.” Die koning het vir my die briewe gegee, want my God was goed vir my en Hy het sy hand oor my gehou. Ek het by die goewerneurs van Wes-Eufraat gekom en ek het die brief van die koning vir hulle gegee. Die koning het offisiere en manne op perde saam met my gestuur. Sanballat die Goroniet en Tobija, die amptenaar by die Ammoniete, het daarvan gehoor. Hulle was kwaad en ontsteld, want hulle wou nie hê dat daar iemand moes kom wat iets goed vir die Israeliete wil doen nie. Ek het in Jerusalem gekom. Nadat ek drie dae daar was, het ek in die nag uitgegaan. Daar was net 'n paar manne by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my laat besluit het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was ook nie diere by my nie, net die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag uitgegaan by die poort in die vallei. Ek het gegaan tot by die Jakkals-fontein en die Vullis-poort. Ek het gekyk hoe lyk die muur van Jerusalem. Vyande het die muur afgebreek en die poorte verbrand. Ek het verder gegaan na die Fontein-poort en die Koning-dam. Die dier waarop ek gery het, kon nie daar verbykom nie. Ek het toe in die nag in die vallei opgegaan en gekyk hoe lyk die muur. Toe het ek omgedraai en ek het deur die poort in die vallei teruggegaan in die stad. Die leiers het nie geweet waarnatoe ek gegaan het en wat ek gedoen het nie. Voor daardie dag het ek niks gesê vir die Judeërs, die priesters, die belangrike mense, die leiers en die ander mense wat die werk moes doen nie. Maar toe het ek vir hulle gesê: “Julle sien hoe sleg dit gaan met ons. Die vyande het Jerusalem verwoes en hulle het sy poorte verbrand. Ons moet weer die muur bou, sodat ander mense ons nie weer sal spot nie.” Ek het vir hulle vertel hoe my God my gehelp het en wat die koning vir my gesê het. En hulle het gesê: “Kom, ons moet die muur bou!” En hulle het dadelik gereedgemaak om die werk te doen. Maar toe Sanballat die Goroniet, en Tobija, die amptenaar by die Ammoniete, en Gesem die Arabier dit hoor, het hulle vir ons gelag en gespot en gevra: “Wat dink julle doen julle? Wil julle opstandig wees teen die koning?” Ek het hulle geantwoord, ek het vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag. Ons is sy dienaars, en ons sal die muur bou. Julle mag nie saam met ons besluit wat in Jerusalem moet gebeur nie. Hier is niks wat aan julle behoort nie en julle het nooit hier gewoon nie.”

NEHEMIA 2:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die maand Nisan van die twintigste jaar van koning Artasásta toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie, het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword en aan die koning gesê: Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is? Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind en as u dienaar welgevallig is in u oë, stuur my dan na Juda, na die stad waar my vaders begrawe lê, dat ek dit kan opbou. Toe vra die koning my, terwyl die koningin langs hom sit: Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer sal jy terugkom? En die koning het dit goedgevind om my te stuur. En ek het hom 'n bepaalde tyd aangegee en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, kan hulle vir my briewe saamgee aan die goewerneurs wes van die Eufraat, dat hulle my laat deurtrek totdat ek in Juda kom; en 'n brief aan Asaf, opsigter van die park van die koning, dat hy aan my hout lewer om die poorte van die vesting wat by die tempel behoort, met balke uit te lê, en vir die muur van die stad en vir die huis waar ek sal intrek. En die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my. En ek het by die goewerneurs gekom wes van die Eufraat en die briewe van die koning aan hulle gegee. Ook leërowerstes en perderuiters het die koning met my saamgestuur. Maar toe Sanbállat, die Horoniet, en Tobía, die Ammonitiese kneg, hoor dat iemand gekom het om vir die kinders van Israel iets goeds te soek, was hulle daaroor erg ontstemd. En toe ek in Jerusalem kom en daar drie dae was, het ek my in die nag gereedgemaak, ek en enkele manne saam met my; maar ek het aan geen mens meegedeel wat my God in my hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie; daar was ook geen dier by my nie, behalwe die dier waar ek op gery het. En ek het in die nag deur die Dalpoort uitgery en na die kant van die Slangfontein en na die Aspoort toe; en ek het die mure van Jerusalem besigtig wat stukkend lê, en sy poorte wat deur vuur verteer was. En ek het verder gegaan na die Fonteinpoort en na die Koningsvywer. Maar daar was geen plek vir die dier om onder my verder te gaan nie. Daarna het ek in die nag in die dal opgeklim en die muur besigtig. Toe het ek weer deur die Dalpoort ingekom en teruggegaan. Maar die leiers het nie geweet waar ek heengegaan het en wat ek doen nie; want ek het tot nog toe die Jode en die priesters en die edeles en die leiers en die ander wat die werk moes doen, niks te kenne gegee nie. Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer 'n voorwerp van smaad kan wees nie. En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my, en ook van die woorde van die koning wat hy my gesê het. En hulle sê: Ons sal ons klaarmaak en bou! En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk. Maar toe Sanbállat, die Horoniet, en Tobía, die Ammonitiese kneg, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle ons bespot en ons verag en gesê: Wat is dit vir 'n ding wat julle doen? Wil julle teen die koning rebelleer? Toe antwoord ek hulle en sê vir hulle: Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie.

NEHEMIA 2:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die maand •Nisan, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, het die wyn gereedgestaan voor hom. Ek het die wyn geneem en vir die koning aangebied. Ek was gewoonlik nie treurig voor hom nie. Die koning vra toe vir my: “Waarom is jou gesig so somber? Jy is tog nie siek nie. Dit kan niks anders as 'n treurige hart wees nie.” Ek het baie bang geword en vir die koning gesê: “Mag die koning vir ewig lewe! Waarom sou my gesig nie somber wees wanneer die stad, die plek van my voorouers se grafte, vervalle lê en sy poorte deur vuur verteer is nie? ” Toe vra die koning vir my: “Wat is dit wat jy wil hê?” Ek het tot die God van die hemel gebid en vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, en as u dienaar by u aanvaarding vind, moet u my na Juda stuur, na die stad van my voorouers se grafte, sodat ek dit kan herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer kom jy terug?” Die koning het dit goedgevind en my laat gaan. Ek het vir hom 'n bepaalde tyd gegee en vir die koning gesê: “As dit die koning geval, kan daar briewe aan my gegee word, gerig aan die •streekgoewerneurs anderkant die Rivier, sodat ek ongehinderd kan deurtrek totdat ek in Juda aankom; ook 'n brief aan Asaf, die opsigter by die koning se bos, dat hy hout vir my moet gee om as balke te gebruik vir die poorte van die vesting by die •tempel, vir die stadsmuur en vir die huis waarin ek sal tuisgaan.” Die koning het die briewe vir my gegee, omdat die goeie hand van my God oor my was. Ek het by die streekgoewerneurs oorkant die Rivier aangekom en vir hulle die briewe van die koning gegee. Die koning het saam met my ook die bevelvoerders van die leër en 'n ruitery gestuur. Toe Sanballat uit Goron, en Tobija, die Ammonitiese amptenaar, dit hoor, het dit hulle baie sleg getref dat iemand gekom het om die Israeliete se welstand te bevorder. Ek het by Jerusalem aangekom, en toe ek drie dae lank daar was, het ek in die nag gereedgemaak, ek en 'n paar manne saam met my. Ek het egter niemand ingelig oor wat my God my op die hart gelê het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was nie 'n dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag deur die Dalpoort uitgegaan, by die Jakkalsfontein langs na die Ashooppoort. Ek het die muur van Jerusalem wat afgebreek was en die poorte wat deur vuur verteer was, nagegaan. Toe het ek oorgegaan na die Fonteinpoort, na die koning se dam, maar daar was nie 'n plek waar my rydier kon deurgaan nie. Ek het toe in die nag met die dal langs opgegaan en die muur nagegaan, waarna ek teruggekeer en weer by die Dalpoort ingegaan het. Die gesagsdraers het nie geweet waarheen ek gegaan het en wat ek besig was om te doen nie. Die Judeërs, die priesters, die hoëlui, die leiers en die res wat die werk moes doen, het ek tot op daardie stadium nie ingelig nie. Toe sê ek vir hulle: “Julle sien die moeilikheid waarin ons verkeer, dat Jerusalem vervalle lê en dat haar poorte deur vuur verwoes is. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, sodat ons nie langer 'n bespotting is nie. ” Ek lig hulle toe in dat die hand van my God goed was oor my, en verder ook oor die woorde van die koning wat hy vir my gesê het. Hulle het gesê: “Ons sal gereedmaak en herbou.” So het hulle moed geskep vir die goeie werk. Maar toe Sanballat uit Goron, Tobija, die Ammonitiese amptenaar, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle met ons die spot gedryf en ons veragtend aangespreek: “Wat is hierdie saak waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?” Ek het hulle toe geantwoord. Ek het vir hulle gesê: “Die God van die hemel, Hy sal ons sukses laat behaal. Ons, sy diensknegte, sal gereedmaak en herbou. Maar julle het geen deel aan, geen reg op, of geen nalatenskap in Jerusalem nie.”

NEHEMIA 2:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die maand Nisan, in die twintigste jaar van koning Artasasta, was daar wyn voor hom, en ek het die wyn opgeneem en dit aan die koning gegee. Nou was ek nie voorheen hartseer in sy teenwoordigheid nie. Daarom het die koning vir my gesê: Waarom is jou aangesig droewig, aangesien jy nie siek is nie? dit is niks anders as hartseer van hart nie. Toe was ek baie bang, En hy het aan die koning gesê: Laat die koning vir ewig lewe; waarom sou my aangesig nie bedroef wees as die stad, die plek van my vaders se grafte, woes lê en sy poorte deur vuur verteer word nie? Toe sê die koning vir my: Waarvoor vra jy? Daarom het ek tot die God van die hemel gebid. En ek het aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, en as u dienaar guns in u oë gevind het, stuur u my na Juda, na die stad van my vaders se grafte, dat ek dit kan bou. Toe sê die koning vir my, (die koningin sit ook by hom): Hoe lank sal jou reis wees? en wanneer sal jy terugkom? Daarom het dit die koning behaag om my te stuur; en ek het vir hom 'n tyd bepaal. Verder het ek aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, laat my briewe gegee word aan die goewerneurs oorkant die Eufraat, dat hulle my kan wegvoer totdat ek in Juda kom; En 'n brief aan Asaf, die bosbewaarder van die koning, dat hy my hout kan gee om balke te maak vir die poorte van die paleis wat aan die huis behoort het, en vir die muur van die stad en vir die huis waarin ek sal ingaan. En die koning het my gegee volgens die goeie hand van my God oor my. Toe het ek by die goewerneurs anderkant die rivier gekom en die briewe van die koning aan hulle gegee. Nou het die koning owerstes van die leër en ruiters saam met my gestuur. Toe Sanballat, die Horoniet, en Tobía, die dienaar, die Ammoniet, daarvan hoor, was dit hulle baie bedroef dat daar 'n man gekom het om die welsyn van die kinders van Israel te soek. Toe het ek in Jerusalem aangekom en was daar drie dae. En ek het in die nag opgestaan, ek en 'n paar manne saam met my; en ek het niemand vertel wat my God in my hart gegee het om in Jerusalem te doen nie; en daar was geen dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het. En ek het in die nag uitgegaan deur die poort van die vallei, selfs voor die draakput en na die mispoort, en die mure van Jerusalem bekyk wat afgebreek was, en sy poorte is deur vuur verteer. Toe het ek verder gegaan na die poort van die fontein en na die koning se dam, maar daar was geen plek vir die dier wat onder my was om deur te gaan nie. Toe het ek in die nag by die spruit opgegaan en die muur bekyk en teruggedraai en deur die poort van die vallei ingegaan, en so teruggekeer. En die owerstes het nie geweet waarheen ek gegaan het of wat ek gedoen het nie; en ek het dit nog nie aan die Jode of aan die priesters of aan die edeles of aan die owerstes of aan die ander wat die werk gedoen het, vertel nie. Toe sê ek vir hulle: Julle sien die benoudheid waarin ons verkeer, hoe Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom laat ons die muur van Jerusalem opbou, sodat ons nie meer 'n smaad is nie. Toe het ek hulle vertel van die hand van my God wat goed oor my was; soos ook die woorde van die koning wat hy met my gespreek het. En hulle sê: Laat ons opstaan en bou. Daarom het hulle hul hande versterk vir hierdie goeie werk. Maar toe Sanballat, die Horoniet, en Tobía, die dienaar, die Ammoniet, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle ons uitgelag en ons verag en gesê: Wat is dit vir hierdie ding wat julle doen? sal julle teen die koning in opstand kom? Toe antwoord ek hulle en sê vir hulle: Die God van die hemel, Hy sal ons voorspoedig maak; daarom sal ons, sy dienaars, opstaan en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie.