In die maand •Nisan, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, het die wyn gereedgestaan voor hom. Ek het die wyn geneem en vir die koning aangebied. Ek was gewoonlik nie treurig voor hom nie. Die koning vra toe vir my: “Waarom is jou gesig so somber? Jy is tog nie siek nie. Dit kan niks anders as 'n treurige hart wees nie.”
Ek het baie bang geword en vir die koning gesê: “Mag die koning vir ewig lewe! Waarom sou my gesig nie somber wees wanneer die stad, die plek van my voorouers se grafte, vervalle lê en sy poorte deur vuur verteer is nie? ” Toe vra die koning vir my: “Wat is dit wat jy wil hê?” Ek het tot die God van die hemel gebid en vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, en as u dienaar by u aanvaarding vind, moet u my na Juda stuur, na die stad van my voorouers se grafte, sodat ek dit kan herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer kom jy terug?”
Die koning het dit goedgevind en my laat gaan. Ek het vir hom 'n bepaalde tyd gegee en vir die koning gesê: “As dit die koning geval, kan daar briewe aan my gegee word, gerig aan die •streekgoewerneurs anderkant die Rivier, sodat ek ongehinderd kan deurtrek totdat ek in Juda aankom; ook 'n brief aan Asaf, die opsigter by die koning se bos, dat hy hout vir my moet gee om as balke te gebruik vir die poorte van die vesting by die •tempel, vir die stadsmuur en vir die huis waarin ek sal tuisgaan.”
Die koning het die briewe vir my gegee, omdat die goeie hand van my God oor my was. Ek het by die streekgoewerneurs oorkant die Rivier aangekom en vir hulle die briewe van die koning gegee. Die koning het saam met my ook die bevelvoerders van die leër en 'n ruitery gestuur. Toe Sanballat uit Goron, en Tobija, die Ammonitiese amptenaar, dit hoor, het dit hulle baie sleg getref dat iemand gekom het om die Israeliete se welstand te bevorder.
Ek het by Jerusalem aangekom, en toe ek drie dae lank daar was, het ek in die nag gereedgemaak, ek en 'n paar manne saam met my. Ek het egter niemand ingelig oor wat my God my op die hart gelê het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was nie 'n dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag deur die Dalpoort uitgegaan, by die Jakkalsfontein langs na die Ashooppoort. Ek het die muur van Jerusalem wat afgebreek was en die poorte wat deur vuur verteer was, nagegaan. Toe het ek oorgegaan na die Fonteinpoort, na die koning se dam, maar daar was nie 'n plek waar my rydier kon deurgaan nie. Ek het toe in die nag met die dal langs opgegaan en die muur nagegaan, waarna ek teruggekeer en weer by die Dalpoort ingegaan het. Die gesagsdraers het nie geweet waarheen ek gegaan het en wat ek besig was om te doen nie. Die Judeërs, die priesters, die hoëlui, die leiers en die res wat die werk moes doen, het ek tot op daardie stadium nie ingelig nie.
Toe sê ek vir hulle: “Julle sien die moeilikheid waarin ons verkeer, dat Jerusalem vervalle lê en dat haar poorte deur vuur verwoes is. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, sodat ons nie langer 'n bespotting is nie. ” Ek lig hulle toe in dat die hand van my God goed was oor my, en verder ook oor die woorde van die koning wat hy vir my gesê het. Hulle het gesê: “Ons sal gereedmaak en herbou.” So het hulle moed geskep vir die goeie werk.
Maar toe Sanballat uit Goron, Tobija, die Ammonitiese amptenaar, en Gesem, die Arabier, dit hoor, het hulle met ons die spot gedryf en ons veragtend aangespreek: “Wat is hierdie saak waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?” Ek het hulle toe geantwoord. Ek het vir hulle gesê: “Die God van die hemel, Hy sal ons sukses laat behaal. Ons, sy diensknegte, sal gereedmaak en herbou. Maar julle het geen deel aan, geen reg op, of geen nalatenskap in Jerusalem nie.”