Nehemia 2:1-20

Nehemia 2:1-20 ABA

Die beker wyn was voor die koning, en ek het dit opgetel en vir hom gegee. Dit was in die maand Nisan, in die twintigste jaar nadat Artasasta koning geword het. Ek het nooit voorheen vir die koning gewys dat ek sleg voel nie. Maar daardie dag het die koning vir my gesê: “Ek kan sien jy voel sleg. Is jy siek? Of is jy hartseer?” Ek was baie bang, maar ek het vir die koning gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek ís hartseer, ek kan nie anders voel nie, want vyande het die stad verwoes waar my voorvaders se grafte is. Hulle het die poorte verbrand.” Die koning het vir my gesê: “Wil jy vir my iets vra?” Ek het gebid tot die God van die hemel en ek het vir die koning gesê: “As dit vir die koning goed is en as die koning goed wil wees vir my, jou amptenaar, dan moet jy my stuur na die stad waar die grafte van my voorvaders is, sodat ek die stad weer kan bou.” Toe vra die koning vir my: “Hoe lank sal jy loop om daar te kom? En wanneer sal jy terugkom?” Die koningin het langs die koning gesit. Die koning het besluit om my te stuur. Ek het vir hom gesê hoe lank ek weg sal wees en ek het vir hom gevra: “As die koning dink dit is goed, dan moet jy vir my 'n brief gee om vir die goewerneurs in die provinsie Wes-Eufraat te gee, sodat hulle my sal laat verbygaan om in die provinsie Juda te kom. Ek het hout nodig vir die balke van die poorte en vir die gebou by die tempel wat sterk mure moet hê, en vir die huis waar ek sal moet woon. Jy moet ook vir my 'n brief gee om vir Asaf te gee sodat hy vir my hout kan gee. Asaf is die amptenaar wat die houtbosse van die koning oppas.” Die koning het vir my die briewe gegee, want my God was goed vir my en Hy het sy hand oor my gehou. Ek het by die goewerneurs van Wes-Eufraat gekom en ek het die brief van die koning vir hulle gegee. Die koning het offisiere en manne op perde saam met my gestuur. Sanballat die Goroniet en Tobija, die amptenaar by die Ammoniete, het daarvan gehoor. Hulle was kwaad en ontsteld, want hulle wou nie hê dat daar iemand moes kom wat iets goed vir die Israeliete wil doen nie. Ek het in Jerusalem gekom. Nadat ek drie dae daar was, het ek in die nag uitgegaan. Daar was net 'n paar manne by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my laat besluit het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was ook nie diere by my nie, net die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag uitgegaan by die poort in die vallei. Ek het gegaan tot by die Jakkals-fontein en die Vullis-poort. Ek het gekyk hoe lyk die muur van Jerusalem. Vyande het die muur afgebreek en die poorte verbrand. Ek het verder gegaan na die Fontein-poort en die Koning-dam. Die dier waarop ek gery het, kon nie daar verbykom nie. Ek het toe in die nag in die vallei opgegaan en gekyk hoe lyk die muur. Toe het ek omgedraai en ek het deur die poort in die vallei teruggegaan in die stad. Die leiers het nie geweet waarnatoe ek gegaan het en wat ek gedoen het nie. Voor daardie dag het ek niks gesê vir die Judeërs, die priesters, die belangrike mense, die leiers en die ander mense wat die werk moes doen nie. Maar toe het ek vir hulle gesê: “Julle sien hoe sleg dit gaan met ons. Die vyande het Jerusalem verwoes en hulle het sy poorte verbrand. Ons moet weer die muur bou, sodat ander mense ons nie weer sal spot nie.” Ek het vir hulle vertel hoe my God my gehelp het en wat die koning vir my gesê het. En hulle het gesê: “Kom, ons moet die muur bou!” En hulle het dadelik gereedgemaak om die werk te doen. Maar toe Sanballat die Goroniet, en Tobija, die amptenaar by die Ammoniete, en Gesem die Arabier dit hoor, het hulle vir ons gelag en gespot en gevra: “Wat dink julle doen julle? Wil julle opstandig wees teen die koning?” Ek het hulle geantwoord, ek het vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag. Ons is sy dienaars, en ons sal die muur bou. Julle mag nie saam met ons besluit wat in Jerusalem moet gebeur nie. Hier is niks wat aan julle behoort nie en julle het nooit hier gewoon nie.”