Here, hoor U my? deur Nina SmitVoorbeeld
God wil jou sonde kwytskeld
Sonde vorm altyd ’n muur tussen ons en God, wat Hom verhinder om na ons gebede te luister. “Julle probleem is dat julle sondes julle afgesny het van God. Hy het weggedraai van julle. Dit is weens julle sondes dat Hy nie meer na julle wil luister nie” (Jes. 59:2, NLV).
Wanneer ’n mens die geskiedenis van God se ongehoorsame volk lees, kan jy nie anders as om verstom te staan oor sy liefde, geduld en genade nie. Hy is maar telkens bereid om die volk se sonde te vergewe en om hul skuld kwyt te skeld.
God is nie net bereid om sonde te vergewe nie, Hy dink ook nooit weer aan die sonde nie: “Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde onder u voete vertrap, dit weggooi in die diepte van die see!” (Miga 7:18–19, NLV).
En dié genadige God is ook jou God, wat sy Seun gestuur het sodat elkeen van jou sondes – dié wat jy in die verlede gedoen het en ook dié wat jy nog in die toekoms gaan doen – vergewe kan word. Aan die kruis betaal Jesus eens en vir altyd vir jou sonde. Daarom mag jy jou hoop vir die toekoms op Hom plaas.
Gebed:
Here Jesus, ek loof U dat U die prys vir elkeen van my sondes aan die kruis betaal het. Dankie dat ek nou vry is en my hoop vir die toekoms aan U kan vasknoop. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Elke dag van hierdie 5-dag-leesplan bevat gedagtes oor gebed. Elke dag het ’n spesifieke onderwerp, soos vergifnis, die belangrikheid van stiltetyd, en die rol van die Heilige Gees in ons lewe. Elke dag eindig met ’n kort gebed en ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Here, hoor U my?”.
More
Ons wil graag Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die voorsiening van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/here-hoor-u-my-grootdruk-hardebandents:ng en http://www.struikchristianmedia.co.za