Here, hoor U my? deur Nina SmitVoorbeeld
Goeie gawes vir sy kinders
Wanneer jy bid, moet jy altyd onthou met wie jy besig is om te praat. Die God tot wie jy bid, ís liefde en Hy het jou onvoorwaardelik lief. Nie omdat jy so oulik is nie, maar omdat Hy jou Vader is. Hy aarsel ook nie om daardie liefde daadwerklik te bewys nie. “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê,” sê Jesus vir Nikodemus (Joh. 3:16, NLV).
Net soos ’n aardse pa vir sy kinders goeie dinge gee as hulle daarvoor vra, net so sal God vir sy kinders goeie dinge gee in antwoord op gebed. In dieselfde mate waarin God egter groter is as ’n aardse pa, net so sal Hy soveel te meer op ons versoeke antwoord. “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur sal al die geslagte heen tot in alle ewigheid,” skryf Paulus in Efesiërs 3:20–21 (1983-vertaling).
God is in staat om vir jou veel meer te gee as wat jy vra, mits jy onthou dat die beloftes in sy Woord net vir sy kinders geld. Jou gebede sal dus net beantwoord word as jy in die regte verhouding met Hom staan. Soos ’n pa soms voorregte van ’n ongehoorsame kind weerhou, kan jy ook nie verwag dat jou gebede verhoor sal word as jy weier om aan God gehoorsaam te wees nie.
Gebed:
Hemelse Vader, ek loof U dat U magtig is om vir my veel meer te gee as waarvoor ek bid. Maak my gehoorsaam aan U sodat U my gebede sal verhoor. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Elke dag van hierdie 5-dag-leesplan bevat gedagtes oor gebed. Elke dag het ’n spesifieke onderwerp, soos vergifnis, die belangrikheid van stiltetyd, en die rol van die Heilige Gees in ons lewe. Elke dag eindig met ’n kort gebed en ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Here, hoor U my?”.
More
Ons wil graag Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die voorsiening van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/here-hoor-u-my-grootdruk-hardebandents:ng en http://www.struikchristianmedia.co.za