Nader Aan God, Nader Aan Mekaar Deur Ewald & Beatrix van RensburgVoorbeeld
Nederigheid, hoogmoed se teenvoeter
Beste en slegste
Gee elkeen ’n kans om oor die beste en slegste oomblik van elkeen se dag te gesels.
Waar het jy Jesus vandag ontmoet?
Gesels met mekaar oor waar elkeen vandag vir Jesus ontmoet het, of oor iets of iemand wat jou aan Hom laat dink het.
In die Bybelse tyd is die woord “nederigheid” gebruik om saggeaarde, getemde perde te beskryf. Omdat perde wat ongetem is, gevaarlik kan wees, beteken nederigheid om in bedwang te wees. Die Here wil dus in beheer van jou lewe wees.
• Hoekom dink jy vertel Jesus hierdie storie?
• Wat het jy beleef toe jy sy storie lees?
• Wat vra dit prakties van jou?
Gedagte vir die dag
As ’n mens te veel van jouself begin dink, raak jy verwaand! Dan vergeet jy maklik wie jy is en wie God is. Weet jy hoe noodsaaklik nederigheid in die lewe is? Dit het altyd ’n goeie invloed op jou verhouding met God en met jou medemens.
Nederige mense laat nooit die kollig op hulself val nie. Die lewe word een groot fees as ’n mens só lewe. Thomas Merton het gesê: “Nederigheid beteken om presies jouself te wees soos jy in God se teenwoordigheid sou wees. Die geheim van nederigheid is dus nie om jou op ’n sekere manier te probeer gedra nie, maar om te fokus op God se teenwoordigheid.”
Nederigheid beteken dat jy nooit neersien op mense wat na jou opsien nie . . . dis hoe Jesus was . . . dis hoe ons as sy volgelinge behoort te wees!
Doen saam
Koop ’n sak plat wit klippe. Gee vir elkeen twee van die klippe. Neem een klip. Skryf op die voorkant “Daar is net een God” en op die agterkant “Mense moet Hom aanbid”. Neem die ander klip en skryf op die een kant “Ek is gemaak na God se beeld” en op die ander kant “Laat die Jesus in my die Jesus in jou dien”.
Gebed
Here, hierdie drie dinge kom van U af: die nederige woord (om te weet wie ek is), die singende woord (om te weet wie U is) en die goeie woord (om te weet wie ander is). O Gees van God, help dat die krag van die drie heilige dinge altyd in my sal wees. Amen.
Leef jou geloof
Laat die kinders deur hulle versameling speelgoed gaan en eenkant sit waarmee hulle nie meer speel nie (nie stukkende speelgoed nie). Skenk die speelgoed aan ’n kinderhuis in die omgewing.
Net vir ouers
Leer jou kinders om waardering te hê en vir mekaar te wys, asook vir ander se gawes en prestasies.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan is ideaal vir die hele gesin en sal lesers herinner aan die belangrikheid om die Here in alles wat hulle doen, in te sluit. Elke dagstuk sluit in die geleentheid om oor die dag te kan praat, ’n gedagte vir die dag, ’n gebed, ’n “doen saam” projek en ’n Bybelvers. Die inhoud is gebaseer op Ewald en Beatrix van Rensburg se “Nader aan God, nader aan mekaar”.
More
Baie dankie aan Struik Christian Media en Ewald en Beatrix van Rensburg dat hulle hierdie plan beskikbaar gestel het. Vir meer inligting oor die boek “Nader aan God, nader aan mekaar”, besoek: https://www.cumbooks.co.za/nader-aan-god-nader-aan-mekaar-flex-cover en http://www.struikchristianmedia.co.za