Waar die hart van vol isVoorbeeld
“Ontspanning”
Die psalmdigters bieg herhaaldelik dat hulle rus vind by God wanneer hulle op Hom vertrou. En dis ’n wenresep wat ons gerus kan volg.
Die één ding wat my stres laat verdwyn, is om diep asem te haal, stil te raak by God en my geliefkoosde psalm, Psalm 131, te bid: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind” (v. 1-2, Bybel in Afrikaans 1983/1992).
Daar digby God is dit vir my maklik om tot rus te kom, om sy kalmte deur my te voel spoel, om by Hom vrede te vind. Want die enigste plek waar ’n mens regtig rustig kan raak, is in God se teenwoordigheid; veral as jy geleer het om volkome op Hom te vertrou, te bid oor dié dinge wat jou so gespanne maak en hulle dan by Hom te los.
Alhoewel dit jou nie vir die res van jou lewe van spanning en stres sal vrywaar nie, sal tyd in God se teenwoordigheid jou beslis rustiger en kalmer maak.
Aangaande hierdie leesplan
Met al die eise wat ’n moderne leefwyse aan mense stel, is dit byna vanselfsprekend dat hulle minder tyd as ooit tevore het om aan hul gesinne en vriende te bestee. Hierdie 5-dag-plan is ’n samestelling van stukkies deur gewilde Suid-Afrikaanse skrywer Nina Smit uit haar boek HOOP VIR ELKE DAG om vroue te help om weer balans in hulle lewe te kry en te besef hoe kosbaar hul naaste verhoudings is.
More
Ons wil graag Christelike kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za