Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 23 VAN 40

JOU MISTERIE

“...  Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie. ” – Matteus 6:4 (DB)

Wanneer die deur van die stoombad oopgelos word, ontsnap die hitte gou, net so verdwyn ons siel se begeerte na God deur die deur van baie praat, selfs al is alles wat ons sê, goed. – Diadochus van Photiki

Gaan vertel vir niemand nie, sê Jesus (Matteus 8:4). Dit is moeilik om ’n geestelike ervaring privaat te hou; ons is dikwels ywerig om ons nuutste belewenis met iemand te deel. Maar hierdie tipe “openheid” kom nie sonder 'n prys nie, daar gaan iets van die heiligheid daarvan verlore in die proses. Diadochus verwys na die mond as die deur waardeur ons die risiko loop om ons misterie te laat kwyn. Henri Nouwen sê dat stilte die innerlike hitte van ons ervaring met God bewaar. Hierdie innerlike hitte kan selfs beskryf word as die energie of die lewe van die Gees wat in ons is. Die raad wat ons vandag dikwels kry is om daaroor te praat. Dit is asof ons ’n sekere soort geestelike ekshibisionisme aanmoedig en dit selfs “getuienis” noem om vir almal te vertel wat ons beleef het of in ons aan die gang is en wat tussen ons en God gebeur.

“Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie.” (Matteus 8:4, NLV) Op hierdie manier bewaar jy die misterie van jou bestaan en jou verhouding met God. Nou is die vraag of jy iets goeds kan doen en vir niemand iets daarvan sê nie. Kan daar iets baie intiem tussen jou en God gebeur, of het dit reeds gebeur, en kan jy dit in jou hart bewaar? Op hierdie manier behou jy jou misterie en laat die vlam in jou binneste bly brand.

“Stilbly bewaar die innerlike hitte van godsdienstige emosies ... stilbly is die manier waarop die innerlike vuur van God opgepas en aan die lewe gehou word.” – Henri Nouwen

GEDAGTE VIR DIE DAG

Stilte bewaar my innerlike misterie.

VIR NADENKE

Dink vir ’n oomblik terug aan die plek waar jy vandag gaan sit het.

Wat was jou belewenis van die plek, die stilte; om net daar te wees? Wat het jy vandag in jou sel van God beleef? Watter emosies het by jou opgekom? Dink na daaroor en vra God om aan jou te openbaar wat hierdie emosies aan jou probeer kommunikeer.

Dag 22Dag 24

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/