Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 24 VAN 40

GEHEGTHEID

“Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.” – Hebreërs 13:5 (NLV)

'n Broeder het vir 'n oudste gevra: “Hoekom is ek so vasgevang in vrees as ek snags alleen uitgaan?” Die oudste het gesê: “Omdat jy nog waarde heg aan die lewe in hierdie wêreld.”

Ons leef vandag met baie vrese; vrees vir wat andere van my dink, dat ek sal misluk, dat ek swak sal voorkom, dat ek foute sal maak en die lys kan aangaan. Die vrees waarvan hierdie broer praat is dié van die donker, dit wat dalk uit die donker na hom toe kan kom: vyandige mense, die dood, om oorval te word of dalk diere wat hom kan aanval. Hierdie vrees kan ook ’n innerlike bedreiging inhou. As ons bewus word van die donker in ons siel, kan ons maklik oorweldig word en die gevoel van nietigheid kan angswekkend wees. Volgens dié woestynvader is die bron van al hierdie vrees dit waarna Ignatius verwys as ’n verkeerde gehegtheid, ”onvanpaste gehegtheid,” aan die lewe hier. Ons is soms te geheg aan die lewe: aan sukses, ons reputasie, ons gesondheid en ons sekuriteit. Sodra ek die lewe, wat nie van hierdie wêreld afkomstig is nie, die goddelike lewe wat in my is, kan ervaar, verdwyn die vrees in my. Dit is nie meer belangrik hoe lank ek sal lewe nie, dit is nie meer belangrik of ek uiterlik suksesvol is nie, of ek my gesondheid het en of ek gewild is nie. Wat belangrik is, is dat God by my is en of ek altyd saam met Hom sal wees. Alles kry ’n ander perspektief as ek hierdie nuwe kwaliteit van lewe in my kan ervaar. Die ervaring van God bevry my van die vrees vir mense en dinge wat die heeltyd dreig om die lewe van my af weg te neem.

'n Oudste het gesê: "'n Mens wat altyd die dood in gedagte hou, sal altyd sy lafhartigheid oorkom.” - Woestyngesegde

GEDAGTE VIR DIE DAG

God is met my, Hy sal my nóóit verlaat nie.

VIR NADENKE

Neem ’n oomblik om jou sterflikheid in God se teenwoordigheid te bepeins.

Vra God om jou sy lig te gee dat jy jou lewe deur sy oë kan sien.

Hoe voel jy wanneer jy aan jou eie verganklikheid en die korte duur van jou lewe dink?  Praat met God oor jou gevoelens hieroor.

Dag 23Dag 25

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/