Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld
GENADE
“My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.” - Galasiërs 6:1 (DB)
“God, wees my genadig. U het tog u kinders baie lief. Vergewe my al my sonde omdat U u kinders oorlaai met arms vol liefde. Vat my verkeerde dade baie ver van my af weg. Delg die skuld van my sondes uit. Maak my skoon omdat my sondes my vuil gesmeer het.” – Psalms 51:3–4 (DB)
Abba Poemen het gesê, “As iemand gesondig het en dit ontken deur te sê: ‘Ek het nie gesondig nie,’ moet jy hom nie vermaan nie, want dit sal hom ontmoedig. Sê eerder: ‘Moenie moed verloor nie, broeder, maar wees waaksaam in die toekoms,' dan sal jy hom aanmoedig om tot inkeer te kom.”
Die groot genadige benadering van die woestyn kom in hierdie gesegde van die woestynvaders na vore. Ek dink ons kan vandag baie by hulle leer. In plaas daarvan om iemand te forseer of om hulle te dwing om hul eie tekortkominge, sonde en verkeerde dade te kan insien, sê Abba Poemen dat ons so ’n persoon eerder weer op hul voete moet help. Ons kan dit doen deur hulle aan te moedig om na die toekoms te kyk, anders kan hul oorweldig word deur hul gevoelens van smart, wat hulle kan verlam en weerhou om enigiets te verander of selfs verhoed om te probeer om die toekoms in te gaan. Abba Poemen kom natuurlik agter dat hierdie persoon nog nie die innerlike krag en sterkte het om homself in die oë te kan kyk en homself te kan sien nie. Hy neem dit wat in hierdie persoon is in ag, deur die persoon eerder te bemoedig en te versterk. Sodoende stel hy hom in staat om, wanneer hy reg is, sy donder kant in oënskou te kan neem. Hulle wat gesondig het, iets verkeerd gedoen het, het die vermoë gekry om weer op te staan en hulself te distansieer van dit wat hulle gedoen het. Dit is nie belangrik om foutloos te wees nie; dit is belangrik om met dit wat jy gedoen het, jou na God se genade toe te wend. Dit is net wanneer ons onvoorwaardelike liefde by God kan ervaar dat ons die moed en die krag kan vind om ons eie swakhede en foute in die gesig te kan staar. Ignatius het byvoorbeeld, voordat hy sy eerste twee dissipels op sy “oefeninge” geneem het, probeer om die twee persone eers te help met hul innerlike, geestelike vorming. Hy het twee jaar deurgebring om hulle eers diep te wortel in die wete dat hulle God se geliefdes is en dat hulle God se kinders is. Dit is net diegene wat diep voel en agterkom dat hulle deur God geliefd is, wat die moed kan vind om die onaangename kante van hulle lewens in die gesig te staar.
“Wanneer iemand so besig is met sy eie foute, sien hy nie sy naaste s'n raak nie.” – Abba Moses
GEDAGTE VIR DIE DAG
“God, wees my genadig. Maak my skoon omdat my sondes my vuil gesmeer het.” – Psalms 51:1–3 (DB)
VIR NADENKE
Wat het jou vandag ver van God af laat voel? Wanneer het jy vandag bewus geword van skuldgevoelens? Hoe het jy dit ervaar? Het jy êrens in die dag gevoel dat God jou heeltemal vergewe het? Hoe het dit vir jou gevoel? Verbeel jou dat jy dit vir God gee en jou na sy genade toe keer. Praat met Hom hieroor.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More
Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/