Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 36 VAN 40

OM TE WEES

Abba Antonie het aan 'n broeder gesê: “Jy kom dikwels hierheen om my te sien, maar jy vra my nooit enigiets nie." Die broeder antwoord toe: "Dit is genoeg om jou net te sien, Vader."

Daar word vertel dat drie pelgrims elke jaar na Vader Antonie toe gekom het om hulle lewens en die toestand van hul siele met hom te bespreek. Een van hierdie drie het altyd stilgebly en nooit iets gevra nie. Vader Antonie merk toe op: “Jy kom dikwels hierheen, maar jy vra my nooit iets nie,” en sy reaksie was: “Dit is genoeg om jou net te sien, Vader." Die pelgrim se gevoel was dat Vader Antonie se teenwoordigheid genoeg was. Ons kan so maklik dink dat net om te wees nie genoeg is nie, dat ons altyd iets moet doen. Maar om werklik teenwoordig te wees, dáár te wees, volledig in die hier-en-nou, is kragtig en dra groot outoriteit. Tot vandag toe word daar in Joodse kringe die gebruik van “Sitting Shiva” (roubeklag of nagwaak) beoefen. Ons lees daarvan in die boek Job toe sy vriende saam met hom in stilte gaan sit het. Dit is ’n gebruik om nie te praat nie, om net saam met iemand te wees; bediening wat plaasvind deur teenwoordigheid. Om stil te sit in iemand se teenwoordigheid sê iets oor vertroue. Wanneer ons in stilte in ons sel gaan sit om net daar te wees, spreek daardie aksie van ons diep vertroue in God uit. Ons vertrou Hom genoeg met ons lewens om onsself aan Hom oor te gee in die wete dat Hy ons diepste verlange, begeertes en behoeftes alreeds ken. Ons laat vaar ons dringende behoefte om met ons woorde altyd in beheer te wil wees. Sal dit nie wonderlik wees as ons ons behoefte om in beheer te wees en suksesvol te wees, laat vaar en net tyd saam met God deur te bring nie? Woorde is nie altyd nodig nie. Om met ’n nuwe tipe teenwoordigheid te lewe is genoeg. Kan ons nie ander soms beter bedien met ons stilte as met ons woorde nie?

Abba Theophilus, die aartsbiskop, het eendag na Scetis toe gekom. Die broeders wat bymekaar gekom het, sê toe vir Abba Pambo: “Sê iets vir die aartsbiskop om hom te bemoedig.” Die ou man sê toe vir hulle: "As hy nie bemoedig word deur my stilte nie, sal hy ook nie deur my woorde bemoedig word nie.” – Woestynstorie

GEDAGTE VIR DIE DAG

Om in die  teenswoordige te leef is genoeg. Om net tyd met God deur te bring is genoeg.

VIR NADENKE

Was daar iemand in wie se teenwoordigheid jy vandag net kon wees? Hoe het jy hierdie persoon beleef? Het jy iets van God in hierdie persoon se teenwoordigheid beleef? Hoe ervaar jy dit om net in God se teenwoordigheid te sit sonder om iets te doen of te sê? Watter emosie kom na vore wanneer jy net in God se teenwoordigheid sit? Praat met God hieroor en vertel Hom van jou belewenis.

Dag 35Dag 37

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/