God Is Naby Jou Deur Nina SmitVoorbeeld

God Is Naby Jou Deur Nina Smit

DAG 1 VAN 5

God is naby

Ons voel nie elke dag dieselfde nie. Soms borrel ons behoorlik oor van inspirasie, maar dan kom daar ook dae wanneer letterlik niks ’n mens inspireer nie, nie eens jou verhoudings met jou hartsmense of selfs jou geloof nie. 

Soms gebeur daar dinge wat jou so hartseer en depressief maak dat jy geestelik totaal afgestomp voel. Op daardie dae kry vandag se teks dit tog steeds reg om ’n klein vlammetjie van inspirasie in my hart aan te steek. 

Die blote wete dat God juis dán ekstra naby aan my is wanneer ek sy hulp die nodigste het, as ek hartseer of geestelik stukkend is, is vir my wonderlik bemoedigend.

Van al God se wonderlike eienskappe is sy nabyheid in tye van nood, sy omgee vir sy kinders, vir my een van die heel wonderlikste. En God is nie net naby ons in swaarkrytye nie; Hy woon ín ons. Deur sy Gees stort Hy sy liefde in ons hart uit, sodat ons dit op ons beurt kan regkry om ander mense wat dit nie verdien nie, lief te hê. 

Deur sy Gees maak Hy dit vir ons moontlik om mense wat geestelik swaarkry te identifiseer en op te beur soos Hy dit met ons doen. Ons leer hierdie lesse juis in ons eie swaarkrytye. 

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat U ekstra naby is wanneer ek moedeloos, hartseer of geestelik stukkend is. U weet presies wanneer ek U die nodigste het en dit is juis dan wanneer ek u nabyheid die helderste beleef. Help my om ander mense wat hartseer en emosioneel gebroke is raak te sien en hulle by te staan net soos U met my doen. Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

God Is Naby Jou Deur Nina Smit

Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers herinner dat God altyd naby hulle is, en wil hulle aanmoedig om Hom in gebed te soek. Elke dag bevat gedagtes oor God se teenwoordigheid in hul alledaagse lewe, en eindig met ’n gebed. Die inhoud van hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se boek, “God is naby jou - 90 dae van bemoediging."

More

Ons wil graag vir Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/god-is-naby-jou-flex-cover en http://www.struikchristianmedia.co.za