God Is Naby Jou Deur Nina SmitVoorbeeld
Maak jou werk ’n inspirasie!
God het ons hier op aarde geplaas om te werk. Hy het hierdie werksopdrag reeds aan Adam en Eva gegee in die paradys (sien Genesis 2:15). Dit is belangrik dat jy ’n werk kies wat nie net vir jouself nie, maar ook vir ander ’n inspirasie is. Probeer altyd om jou passies in jou manier van werk te volg as dit enigsins moontlik is.
Toe ek ’n studierigting moes kies, het ek geweet dat ek ’n werk moet kies waarin ek my passie vir woorde, boeke en mense kon kombineer. Ek het dan ook elke oomblik van my werk as bibliotekaresse geniet. Toe ek begin skryf het, het ek ook besef dat dit ’n talent is wat ek van die Here gekry het, en dit is steeds vir my ’n vreugde en ’n vervulling om dit te kan doen.
Die werk wat jy doen, behoort nie net vir jouself ’n inspirasie te wees nie, maar ook vir die mense wat daarna kyk. Een van my vriendinne wat pragtig handwerk kon doen, het jare gelede saam met ’n paneel vroue ’n pragtige muurbehangsel gemaak wat die skepping voorstel.
Dit het jare lank in ons kerk in Somerset-Wes gehang en almal wat dit gesien het, is daardeur aangeraak. Elke keer as ek daarna gekyk het, het ek teruggedink aan hierdie vriendin, wat uiteindelik aan motorneuronsiekte oorlede is. Doen dus jou werk met vreugde, asof jy dit vir die Here doen. En soek vir jou ’n werk waarin jy jou talente kan uitleef.
Gebed
Here, baie dankie vir die voorreg om ’n werk te kan doen wat vir my ’n inspirasie is en om steeds besig te wees met dié roeping wat U aan my gegee het. Help my om dit altyd vir U te doen. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers herinner dat God altyd naby hulle is, en wil hulle aanmoedig om Hom in gebed te soek. Elke dag bevat gedagtes oor God se teenwoordigheid in hul alledaagse lewe, en eindig met ’n gebed. Die inhoud van hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se boek, “God is naby jou - 90 dae van bemoediging."
More
Ons wil graag vir Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/god-is-naby-jou-flex-cover en http://www.struikchristianmedia.co.za