Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld
JY IS TE ONBELANGRIK OM 'N VERSKIL TE MAAK
Stel jou voor dis oorlog. Daar word oor en weer geskiet en dit gaan rof. Dan kom jy by een van die soldate wat in die voorste linies veg en jy vra vir hom: “Was jy tevrede met die hamper wat jy gister gekry het? Was daar darem ’n naelknippertjie in? Sorg die weermag darem goed vir julle?” Hy sal jou definitief snaaks aankyk en sê: “Waarvan praat jy? Ons voer oorlog hier; ek het nie tyd vir naels knip en sulke goed nie!”
Dan kom jy by die soldate wat in die kampe bly. Hulle is al so drie of vier weke daar en al effens verveeld. Hulle het nie ’n dringende taak nie, hulle wag maar net vir ’n opdrag. As jy dan vir een van húlle gaan vra: “Is alles reg? Is julle gelukkig?” Dan sal die soldaat maklik sê: “Weet jy, die kos is maar power. Die eier het vanoggend nie genoeg sout opgehad nie.”
In die kerk werk dit ook so: Dis die mense in die “agterste linies” wat die meeste kla, want hulle het nog nie hulle roeping ontdek nie. Hulle is nog nie afleweringsbodes nie. Sulke mense is ontevrede oor die onbenulligste goed by die kerk: Die stoele is te hard, die lugversorging is te koud, die koffie is te flou.
Intussen is die belangrike goed mos eintlik die wonderwerke, die harte en die siele by wie die boodskap moet uitkom. Raak dus eerder betrokke en begin in die voorste linies werk, dan sal klein dingetjies jou nie meer so ontstel nie. Miskien sê jy nou, ja, maar ek het nie ’n talent nie. Ek kan nie preek of voor mense praat nie. Ek is eintlik baie skaam en teruggetrokke. Wat kan ek doen?
Weet jy wat? Toe God jou gemaak het, het Hy reeds geweet watter wonderwerkpakkies jy moet gaan aflewer. En dit sál pas by jou persoonlikheid. Hy het ook lankal geweet wat ek, Andries, vir Hom moet doen. Hy gaan nie van my verwag om Amazing Grace voor duisende mense te sing nie – glo my, jy wil dit nie hoor nie! Dis nie wie ek geskep is om te wees nie. Die wonderwerke wat ek moet gaan aflewer, pas by my; dis uitgeknip vir my.
Al voel jy doodgewoon, moet jy vir ’n ander doodgewone mens iets ongewoons gaan doen! Dink maar aan die dissipels – hulle was doodgewone mense met foute en tekortkominge, net soos ek en jy. God het planne met mense, maar daarvoor wil Hy helpers gebruik. Die Vader is besig om aan jou te werk, maar moenie eers wag tot jy volmaak en heilig is voor jy dink jy is goed genoeg nie. Begin sommer vandag!
Ja, dis ’n uitdaging en dit maak ’n mens effens bang. Maar wanneer jy die regte pakkie aflewer wat uitgeknip is vir jou, dan is dit maklik en lekker. Dit doen ook iets vir jou. In die teksvers staan jy is gemaak vir goeie dade. Die hemelse opdrag pas jou soos ’n handskoen. Hierdie wonderwerkpakkies wat jy moet aflewer, is lankal vir jou voorberei. Jy sien, as jy dit nie doen nie, dan word dit dalk nooit gedoen nie, want dis spesiaal vir jou uitgesoek.
Ons dink baiekeer daar gaan ’n groot Stem uit die hemel praat en ’n wonderwerk aankondig. Dan sal jy weet: Hier is my geleentheid nou. Maar dis eintlik baie eenvoudig – jy moet net jou oë oophou.
Jy stap dalk vandag in die straat en iemand kom van voor af. Julle maak oogkontak en jy weet net – dis die persoon. Dis hoekom ek vandag, nou, hier is, dis wat lankal vir my voorberei is. Jy moet dalk net vriendelik groet of vra hoe dit gaan. Of net sê jy sal vir die persoon bid. Dis hoe eenvoudig dit is.
Dink aan ’n normale dag op kantoor. Jou kollega lyk ’n bietjie emosioneel. Jou doel is om te vra wat is fout, of om aan te bied om te help. Jy kan vir die persoon bid of sommer net luister. Wie weet, dalk is dit vir daardie mens die grootste wonderwerk ooit!
Partykeer wil jy vra, ag, stuur my asseblief net na iemand anders toe, ek wil nie na hierdie mens toe gaan nie. Maar maak net jou hart oop en ontvanklik, want jy kan nie altyd kies na wie toe jy ’n wonderwerk wil neem nie. Die afleweringsbode kan mos nie besluit vir wie hy pakkies wil aflewer nie!
Dus, al kom iemand oor jou pad wat anders is as jy of van wie jy nie hou nie, doen dit net en jy sal self geseën word. As jy nie die pakkie aflewer nie, verloor jý die meeste, want jy weet mos dis beter om te gee as om te ontvang.
Aan die ander kant, as jy die pakkie aflewer, wen jy! Jy kom baie nader aan Jesus, jy sien Hom in hierdie mens raak en jy het die beste ervaring van jou lewe! Wees ’n gewone mens wat aan ’n gewonde mens ’n wonderwerk aflewer.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.
More
Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/